Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mea se bedanking op vergadering van Mangaung bespreek

Die bedanking van adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die Mangaung-metro in Bloemfontein, gaan Woensdag in ’n komitee op ’n raadsvergadering bespreek word.

Adv. Tankiso Mea Foto: Argief

Dit blyk uit ’n agenda vir die vergadering. Raadslede praat reeds geruime tyd oor die bedanking van Mea, wat ’n salarispakket van sowat R3,3 miljoen per jaar verdien.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, het by navraag gesê hy het ook gehoor Mea het bedank. “Maar daar is Woensdag ’n raadsvergadering. Ons sal daarna kan sê wat die omstandighede is.”

Mea, wat verskeie kere op albei sy telefone gebel is om kommentaar, het nie oproepe beantwoord nie. Hy het egter vroeër gesê die raad moet daaroor praat en dat hy nie nou oor sy bedanking kan praat nie.

Mea is vir ’n tweede keer voorlopig geskors hangende die uitslag van ’n finale verslag van twee senior advokate, adv. Tebogo Manye SC, en Johan Nell SC, wat ook op Woensdag se raadsvergadering in ’n komitee sal dien.

Die advokate moes ondersoek of Mea dissiplinêr verhoor moet word weens beweerde wangedrag en wanadministrasie wat daartoe gelei het dat die metro in duie gestort het.

Die opdraggewende prokureursfirma is Moroka Prokureurs van Bloemfontein en Thaba Nchu.

Dit kom nadat die DA reeds op 11 Februarie vanjaar in ’n mosie voor die raad gevra het dat Mea ondersoek moet word.

Nog ’n agendapunt vir Woensdag, is die aanstel van ’n waarnemende stadsbestuurder vir die metro wat ook in ’n komitee hanteer gaan word.

Van die klagte wat die DA in sy mosie teen Mea na die raad gebring het, lui:

• Dat hy gefaal het om te voldoen aan wette, regulasies of wetlike doelwitte wat verband hou met die werkgewersverhouding. Dit sluit in dat die metropolisie geen burgerlike oorsigkomitee het nie, nie funksioneel is sedert 2017 nie en dat geen verslag sedert April 2020 voorgelê is nie. (Intussen was daar wel ’n verslag nadat die klag teen Mea ingebring is).

• Dat die metropolisie ’n groot finansiële las vir die belastingbetaler is en dat dié geld eerder vir dienslewering gebruik kon word.

• Dat hy sedert 2016 nie inligting aan die DA kon verskaf nie nadat die party ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ’n aansoek gebring het oor die prestasiebeoordelings van alle bestuurders (insluitend senior bestuurders wat departementshoofde is) wat aan Mea verslag doen).

• Dat die jaarverslag nie betyds in die raad ter tafel gelê kon word nie. Die geïntegreerde ontwikkelingsplan kon dus nie betyds toegepas en gemonitor word nie en die salarisskale en voordele van sy pos en dié van bestuurders wat aan hom verantwoording doen, is nie gepubliseer nie.

• Dat die munisipale bestuurder nie die kontrakteurs of verskaffers betaal het binne 30 dae dat hulle werk afgehandel het nie. Begrotings van die projekte is ook nie beheer nie.

• Dat hy nie geld bestee het in ooreenstemming met die jaarlikse begroting nie en dat hy minder bestee het waar hy gedink het dit is nodig. Die metro gaan van sy nasionale toelae verloor weens onderbesteding. Andersyds is daar oorbesteding aan goed waarvoor die geld nie bedoel is nie.

• Dat ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes nie voorkom is nie en dat nie nou reeds op R1,36 miljard steier.

• Dat daar nie verslag gedoen is aan die raad oor onderbestedings, tekorte, oorbestedings en ander stappe wat Mea moes gedoen het nie.

• Dat daar nie geslaag is om ’n stelsel vir die insameling van verkeersboetes op die been te bring nie en dat R18 miljoen se boetes sedert 2016 afgeskryf moes word.

• En dat die verkeersdepartement steeds nie funksioneer nie, daar word nie dagvaardings vir verkeersoortredings uitgereik nie en inkomste van miljoene rande gaan glo so verlore.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.