Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Meeste skoon oudits onder DA munisipaliteite in 2017-’18
Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG).Foto: Lisa Hnatowicz

Byna al die munisipaliteite wat skoon oudits in die boekjaar 2017-’18 ontvang het, het in die vorige boekjaar ook ’n ongekwalifiseerde oudit sonder bevindings gehad.

Van die 18 munisipaliteite (8%) landwyd wat skoon ouditmenings van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het, het slegs die Gert Sibande-distrik in Mpumalanga en die Joe Gqabi-distrik in die Oos-Kaap se ouditmening verbeter tot ongekwalifiseerd sonder bevindings.

Daarby word 13 van dié 18 munisipaliteite deur die DA regeer.

Dit sluit in 12 munisipaliteite in die Wes-Kaap, onder meer die Kaapse Wynlande-distrik, Overberg-distrik, Weskus-distrik, Breedevallei, Witzenberg, Hessequa, Kaap Agulhas, Overstrand, Swellendam, Bergrivier, Cederberg en Matzikama.

Midvaal in Gauteng het ook al sedert die boekjaar 2013-’14 elke jaar ’n skoon ouditmening ontvang en word herhaaldelik aangewys as die munisipaliteit wat die beste in Gauteng presteer.

Vyf munisipaliteite onder die ANC het in 2017-’18 ongekwalifiseerde oudits sonder bevindings gehad.

In die Oos-Kaap het die Senqu-munisipaliteit en Joe Gqabi-distrik skoon oudits gehad, terwyl Senqu en Ingquza Hill die vorige boekjaar ook ongekwalifiseerde oudits sonder bevindings ontvang het.

Die Gert Sibande-distrik in Mpumalanga is die enigste munisipaliteit in die provinsie wat ’n skoon ouditmening ontvang het en die vorige boekjaar was dit slegs die Ehlanzeni-distrik en Nkangala-distrik.

Die Okhahlamba-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is ook die enigste in die provinsie met ’n skoon oudit. In die vorige boekjaar was dit onder ses munisipaliteite in KwaZulu-Natal met ongekwalifiseerde oudits sonder bevindings.

In die Noord-Kaap het net die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit ’n skoon ouditmening ontvang en is dié prestasie ook in die boekjaar 2016-’17 behaal.

In die boekjaar 2016-’17 het 33 munisipaliteite (13%) skoon ouditmenings ontvang vir gehalte finansiële verslae, prestasieverslae en nakoming van die wet.

Luidens die OG se oorsig van die ouditmenings per provinsie het Gauteng die afgelope drie jaar ongekwalifiseerde oudits in 100% van sy munisipaliteite behaal en is dit die enigste provinsie sonder gekwalifiseerde oudits of ’n ouditmening wat weerhou is weens onvoldoende bewyse.

Die ouditmenings sluit egter vir Emfuleni uit omdat die oudit nie betyds afgehandel kon word nie as gevolg van veiligheidsoorwegings in die munisipale gebied wat daarna gelei het dat dit tydelik opgeskort is.

Intussen het die persentasie van munisipaliteite met skoon oudits in die Wes-Kaap van 70% tot 40% gedaal en het die OG dit aan ’n “verslapping van beheer” by sommige munisipaliteite toegeskryf.

In die boekjaar 2016-’17 het Drakenstein, George, Langeberg, Mosselbaai, Prins Albert, Saldanhabaai, Stellenbosch, Swartland en Theewaterskloof in die Wes-Kaap ook skoon ouditmenings ontvang.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), het Woensdag die ouditmenings van die 257 munisipaliteite en 21 munisipale entiteite vir die boekjaar geëindig op Junie 2018 bekend gemaak.

Slegs 22 munisipaliteite se ouditmenings het ’n verbetering getoon en dit het by 63 munisipaliteite verswak.

Makwetu het toe aangedui dat die uitslae van die munisipale oudits weer eens ’n afname in die algemeen getoon het en gemaan dat plaaslike regerings traag is om sy aanbevelings in werking te stel of dit selfs verontagsaam.

“As gevolg daarvan het die verantwoordbaarheid vir finansiële- en prestasiebestuur verder in die meeste munisipaliteite verswak.”

Makwetu sê in die ouditverslag dat die munisipaliteite wat aanhoudend skoon oudits ontvang, oor bestendige leierskap beskik wat verbind is tot streng beheer en doeltreffende regering.

Dit behels dat hul aksieplanne vir oudits voortdurend gemonitor word om enige bevindings vroeg op te spoor en ’n “positiewe benadering” tot risiko’s wat voorkom.

Die OG noem ook dat nievoldoening aan wetgewing vir plaaslike regering in dié boekjaar die hoogste vlakke sedert 2011-’12 bereik het.

By 92% van munisipaliteite is ’n beslissende nievoldoening aan wetgewing gevind en het dit toegeneem van 85% in 2016-’17.

Munisipaliteite met beslissende bevindings oor nievoldoening aan verkrygingsbestuur het van 72% tot 81% gestyg.

munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.