Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mense in Graaff-Reinet ‘skep nou rioolwater’

Die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers gaan vandeesweek in Graaff-Reinet ingryp waar die waterkrisis so groot is dat inwoners glo oor water baklei.

Dié dorp se watertekort is nou so erg dat groot dele al sedert 10 September geen water het nie en desperate inwoners het verlede week begin om rioolwater vir huishoudelike gebruik te skep.

Duisende dooie visse is al wat oor is by die Nqwebadam buite Graaff-Reinet. Foto: Elsabé Pienaar

Volgens Corene Conradie van die Graaff-Reinet-waterkrisisgroep loop die gemoedere hoog en het dit gevaarlik geraak vir vrywilligers om water by knelpunte te besorg.

“Die mense baklei vir water,” sê Conradie, “en weerlose kinders word deur volwassenes uit die pad gestamp, terwyl behoeftige bejaardes aan hul eie genade oorgelaat is.”

Gift of the Givers is reeds in verskeie dorpe in die droogtegeteisterde Oos-Kaap betrokke, waaronder Adelaide, Bedford, Komani (Queenstown), King William’s Town, Nanaga en Makhanda (Grahamstad). Die organisasie beplan om vandeesweek verskeie vragmotors met watervoorraad na Graaff-Reinet te bring om die onmiddellike nood te verlig. Hulle bring egter ook ’n boormasjien saam met die oog op ’n langtermynoplossing en daar sal in samewerking met die hidroloog dr. Gideon Groenewald gepoog word om die dorp se gebrekkige boorgatwater aan te vul.

Die Nqwebadam kon sedert Februarie nie meer water aan Graaff-Reinet verskaf nie. Foto: Elsabé Pienaar

Groenewald is lank reeds met die omgewing bekend. Hy is in 1999 deur wyle dr. Anton Rupert aangestel om ’n volledige verslag oor die dorp se grondwaterbronne op te stel omdat die dorp ook toe deur ’n droogte geteister is. Dié boorgate is egter nooit gesink nie aangesien die Nqwebadam (toe nog die Vanryneveldspasdam) kort daarna vol geloop het. Groenewald was ook in April vanjaar as adviseur in Graaff-Reinet omdat die dorp sedert Februarie slegs op boorgate vir watervoorsiening kon staatmaak. Droogtehulp van R30 miljoen is aan die Dr. Beyers Naudé- plaaslike munisipaliteit toegeken, maar hoewel ’n kontrakteur aangestel is, is die munisipaliteit vaag oor hoe die geld aangewend is.

“Dit wil nie tans vir my voorkom asof enige van my aanbevelings ter harte geneem is nie,” sê Groenewald.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, is van mening dat daar tog hoop vir Graaff-Reinet is.

“Die oplossing lê daarin om bestaande of nuwe boorgate te ontwikkel, die watertafel te bestuur, te verseker dat pompstelsels optimaal funksioneer en om die opvul van hoogliggende reservoirs as ’n saak van dringendheid te benader. As die geografie dit toelaat, sal boorgate in hoogliggende gebiede gesink word,” het hy Saterdag in ’n nuusverklaring gesê.

Keelvol inwoners van Graaff-Reinet beplan ’n vreedsame betoging oor die waterkrisis waaronder dié dorp gebuk gaan. Inwoners beoog om Vrydag om 12:30 voor die Robert Sobukwe-gebou byeen te kom en ’n griefskrif te onderteken wat die gemeenskap se hulpkreet na die parlement sal neem.

Samantha Graham-Maré, DA-LP, het die munisipaliteit by die Menseregtekommissie verkla.

“Daar is baie verskonings, maar uiteindelik wend die munisipaliteit geen daadwerklike poging aan om die waterkrisis te verlig nie.”

Dorre grond. Die Nqwebadam buite Graaff-Reinet is kurkdroog en nou kan boorgate ook nie meer in die dorp se behoeftes voorsien nie. Foto: Elsabé Pienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.