Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro betaal R400 000 vir 2 begrafnisse

Die ANC-beheerde eThekwini-metro in Durban het pas R400 000 betaal vir die begrafnisse van twee raadslede – al is die raad in groot finansiële moeilikheid en al mag net 50 mense ’n begrafnis bywoon.

Die begrafnisdiens van Bhekithemba Phungula op 4 Julie.

Toe die DA die besteding bevraagteken, het die ANC gesê hul gedrag druis teen die mooi beginsel van ubuntu in.

Slegs 56% van Durbaniete betaal deesdae hul munisipale rekeninge aan ’n metroraad onder ANC-bewind, waar onreëlmatige besteding die afgelope jaar volgens die ouditeur-generaal opgeskiet het na ’n rekordbedrag van R2,34 miljard.

Nicole Graham, DA-leier in die raad, sê die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Kaunda, het die geld vir die begrafnisse van Bhekithemba Phungula op 4 Julie en dié van Nomusa Mthembu op 10 Julie bewillig onder voorwendsel dat dit ’n “noodsituasie” was.

Elk van die twee teraardebestellings, wat op sosiale media uitgesaai is sodat een en elk kon hoor hoe die laaste kluit klap op die eerbiedwaardige raadslede se kiste, het R200 000 gekos. Rapport het die video’s agterna gaan kyk. Albei seremonies was eenvoudig en daar is gehou by die perk van 50 mense. Maar die DA se Graham vra: “Hoe kos ’n begrafnis vir 50 R200 000?”

Mlebuka Hlengwa, EFF-voorsitter in die eThekwini-raad, sê dié party wil regsadvies inwin. “Ons is baie ongelukkig en ons bespreek die kwessie op politieke vlak. Dit is hoe geld gesteel word. Ons het almal boonop ons eie begrafnisdekking.”

‘Hoe kos ’n begrafnis vir net 50 R200 000?’

Hy sê hy kon niks sien by die begrafnisse wat die groot uitgawes regverdig nie. “Dikwels weet die families van die afgestorwenes nie eens van die groot bedrae nie.”

Die metroraad het Vrydag, nadat Graham ’n keel opgesit het, in ’n verklaring gesê die raad het ’n “vaste beleid om families van raadslede in rou by te staan, ongeag hul politieke affiliasie”.

Die uitvoerende leierskorps het die kwessie Donderdag bespreek “en daar was konsensus om die beleid te hersien gegewe die huidige ekonomiese klimaat en die impak wat Covid-19 op die stad se finansies het.”

Nou sê die ANC-raad Graham soek net aandag.

“Die stad vra om verskoning aan die families oor die anti-ubuntu-gedrag van die DA,” sê die raad in sy verklaring.

Msawakhe Mayisela, woordvoerder van die metro, sê R200 000 is die maksimum steun as ’n raadslid sterf. Op ’n vraag of dié geld ook vir opposisieraadslede beskikbaar is, het hy gesê hy dink darem so. “Die beleid diskrimineer nie teen ’n raadslid nie.” Normaalweg word die geld aan die familie uitbetaal, maar hy kon geen kontaknommers van een van die families voorsien nie.

Elke metro maak skynbaar sy eie reëls wanneer dit by koebaais vir raadslede kom.

Jonathan Lawack, oudspeaker van die Nelson Mandelabaai-metropool, sê enkele jare gelede het dié raad, toe nog in ANC-beheer, byna R1 miljoen bestee toe drie ANC-raadslede in ’n ongeluk gesterf het.

“Die raadslede se welsynsbeleid sê tans ’n maksimum van R25 000 kan vir ’n dienende raadslid se begrafnis betaal word.” Dit is net vir blomme en spyseniering by die begrafnis.

Die DA-beheerde Kaapstad-metro betaal niks uit as raadslede sterf nie. Dirk Smit, speaker, sê hy is nie bewus van enige geval waar geld bestee is nie, buiten vir ’n beperkte bydrae vir ’n ruiker en verversings.

Meer oor:  Nicole Graham  |  Mlebuka Hlengwa  |  Nomusa Mthembu  |  Bhekithemba Phungula  |  Mxolisi Kaunda  |  Ethekwini-Metro  |  Raadslede  |  Da  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.