Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro bly lid van netwerk ondanks koste

Terwyl die Mangaung-metro ’n punt van 22 uit 100 vir finansiële stabiliteit gekry het op die Suid-Afrikaanse munisipale finansiële volhoubaarheidsindeks, het die ANC-beheerde raad tog besluit om R23 miljoen goed te keur om die volgende vyf jaar lid van die Suid-Afrikaanse Stedenetwerk (SASN) te bly.

Dit ondanks hewige kritiek van die opposisiepartye op die metro se jongste raadsvergadering.

Boonop is besluit dat adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, en Mxolisi Siyonzana, die ANC-speaker, die metro se twee verteenwoordigers op die forum sal wees.

Hulle sal vir vergaderings na die verskillende stede vlieg en daar oorbly, wat bykomende koste vir die metro beteken.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die Mangaung-metro, wat nou Mangaung se verteenwoordiger by die SASN sal wees.

“Daar is min tasbare voordele of navorsingsuitsette wat gewys kan word uit die metro se lidmaatskap aan die SASN in vorige jare,” het Tjaart van der Walt, DA-raadslid, op die vergadering gesê.

Hy sê die raadslede was nie eens in die verlede bewus daarvan dat die metro in die SASN verteenwoordig is nie.

Van der Walt sê as na die historiese verslae van die metro gekyk word in die ondertekening van samewerkingsooreenkomste met ander regeringsdepartemente, het die ooreenkoms met die SASN jammerlik misluk in sy oogmerke om interregeringsregulasies te versterk.

Selfs al het Mangaung die geld gehad vir dié luukse, het die metro tans nie die geld of kapasiteit om enige innoverings in werking te stel wat uit samewerking in die SASN na vore kom nie.

Van der Walt sê die raad sal verantwoordelikheid vir die volgende vyf jaar moet vat vir enige geldelike gevolge wat mag voortspruit uit sy betrokkenheid by die SASN.

Hy het ook daarop gewys dat die metro ’n uiters onstabiele finansiële vooruitsig het en dat hy skaars ’n begroting van R7 miljard het, waarvan R23 miljoen nou vir lidmaatskap moet gaan.

Dit terwyl ander ryker metropole se begrotings in die omgewing van R10 miljard tot R30 miljard is.

Mxolisi Siyonzana, speaker van die Mangaung-metro, wat ook Mangaung se verteenwoordiger by die SASN gaan wees.Foto: Mangaung-metro

Van der Walt het verder wal gegooi en gevra hoe Mangaung wat Bloemwater meer as R600 miljoen skuld en vir Centlec, sy elektrisiteitsverspreider, miljoene rande, en nie sy kontrakteurs binne 30 dae kan betaal nie, eers oorweeg om nog aan die SASN te behoort.

“Dit is finansieel roekeloos en dit sal misdadig wees.

“Laat ons dit heroorweeg wanneer ons inwoners nie strate het wat met rioolvuil besmet is nie en wanneer 40% van sy drinkwater nie verlore gaan nie.

“Kom ons heroorweeg lidmaatskap wanneer ons inwoners werk het en wanneer hulle ordentlike vervoer na hul werkplekke het. Ook wanneer hul drinkwater nie soos rivierwater lyk en ruik nie.”

Hy sê lidmaatskap kan heroorweeg word wanneer die munisipaliteit genoeg geld het om veiligheidsbeamptes in diens te neem wat kan toesien dat munisipale regulasies in werking gestel word. Ook wanneer veiligheidsbeamptes oor die vermoë beskik om boetes van inwoners te verhaal.

“Kom ons herbesoek die agendapunt wanneer ons werkers op grondvlak beskermende klere het, die toerusting het om die water- en rioolprobleme op te los en wanneer hulle veilige voertuie het wat nie hul lewe daagliks in gevaar stel nie.”

Van der Walt sê die munisipaliteite in Mosselbaai en die Swartland in die Wes-Kaap, wat deur die DA beheer word, het die hoogste punt vir finansiële stabiliteit gekry: 84 uit 100.

* Zolile Mangcotywa, hoofsweep van die ANC, het gesê die SASN het Mangaung baie bygestaan toe hy ’n metro geword het en lidmaatskap het besliste strategiese voordele.

* Devar Smit van die VF Plus sê dié party het ook sterk kapsie op die raadsvergadering gemaak teen die lidmaatskap omdat hy dink dat dit ’n vermorsing van geld is en het daarteen gestem.

* Paulnita Marais van die EFF is ook teen die lidmaatskap gekant en die party het daarteen gestem.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Mangaung-Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.