Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro gaan voort met eis oor skade aan infrastruktuur

Die Kaapstad-metroraad gaan voort met ’n siviele eis van R1,4 miljoen teen die EFF en die drukgroep Gatvol Capetonians nadat skade aan sy infrastruktuur aangerig is.

Die burgemeester, Dan Plato, sê in ’n verklaring die twee groepe is glo verantwoordelik vir die skade wat in protesoptogte aangerig is en moet vir die herstelwerk betaal.

Plato sê die beskadiging van infrastruktuur is nie ’n aanvaarbare manier van betoog nie.

Die voorruit van ’n brandweervoertuig is in ’n protesoptog in Brackenfell beskadig. Foto: Gallo Images

“In Suid-Afrika moet ons die streep trek as die wet oortree word en daarom gaan ons hierdie groepe vir die skade van R1,4 miljoen aanspreeklik hou.”

Volgens Plato is ’n dagvaarding op 29 Maart aan Gatvol Capetonians beteken vir skade van sowat R1,3 miljoen toe die hoofroetes na Kaapstad gedurende die protesoptogte in Augustus 2019 versper is.

In die eis voer die metro aan dat die drukgroep se optrede roekeloos, verkeerd en onwettig was deur ander aan te hits om die verkeer op die paaie tot stilstand te dwing, terwyl hulle ook die Wet op die Regulering van Byeenkomste oortree het.

Volgens Plato het die drukgroep glo nie kennis gegee van die optog nie en ook nie mense aangewys om te verseker dat dit vreedsaam verloop nie.

Vullisdromme en padtekens wat in Brackenfell aan die brand gesteek is. Foto: Gallo Images

Volgens die eis is infrastruktuur in Grassy Park (R311 760), Atlantis (R336 946), Mitchells Plain (R50 000), Kensington (R50 000), Kommetjie in Ocean View (R361 953), Milky Way in Ocean View (R170 000), Delft (R11 909), die Kaapse middestad (R10 000) en die Bo-Kaap (R1 867) beskadig.

Die stadsraad het ook ’n aparte brief aan die EFF gestuur vir skade van R87 312 waarvoor hy hom aanspreeklik hou nadat daar op 20 November verlede jaar ’n protesoptrede in Brackenfell was.

Volgens die metroraad het die party glo nie die regulasies waaroor die partye ooreengekom het, gehoorsaam nie en ook ’n bevel van die hooggeregshof in Kaapstad geminag.

Verkeersligte op verskeie kruisings is beskadig, ’n brand is op ’n stuk grond gestig en voertuie, waaronder ’n brandweerwa, is beskadig.

Die EFF het 21 dae om hierdie bedrag by die metroraad se bankrekening te betaal en sal gedagvaar word indien hy versuim om dit te doen, lui die verklaring.

Een van die verkeersligte in Brackenfell wat beskadig is. Foto: Gallo Images

Fadiel Adams, hoof van Gatvol Capetonians, sê hulle het die verklaring van die metroraad gesien, maar nog geen dagvaarding ontvang nie.

Volgens hom is dit “tipiese gedrag van die metroraad” en is dit interessant dat die beweerde skade wat twee jaar gelede aangerig is dae voor die munisipale tussenverkiesing betaal moet word.

Adams sê hy win regsadvies in oor die bewerings teen die drukgroep en dat die saak teengestaan sal word.

“Ons neem die dagvaarding nie ernstig op nie, want hulle het ons strafregtelik probeer vervolg en dit het nie gewerk nie, nou wil hulle hierdie roete probeer. Daar is geen bewyse nie,” sê Adams.

Wandile Kasibe, ’n woordvoerder van die EFF, sê die party gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Eff  |  Dan Plato  |  Kaapstad  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.