Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro gewaarsku oor lening vir partytjies

Die nasionale tesourie het ’n streng waarskuwing aan die Nelson Mandelabaai-metro gerig oor sy voorneme om R300 miljoen wat bedoel is om verouderde infrastruktuur te vervang, aan onder meer partytjies en regskoste te bestee.

Die tesourie se brief aan die metro volg nadat dit aan die lig gekom het die metro wil sy oorspronklike sakeplan vir ’n lening van R700 miljoen verander, veral wat die aankoop van infrastruktuur vir water en elektrisiteit betref.

Retief Odendaal, DA-raadslid, sê dis belaglik dat die Nelson Mandelabaai-metro ’n lening vir die verbetering van infrastruktuur nou vir partytjies wil gebruik. Foto: Lulama Zenzile

Die metro mag volgens wet nie die geld wat hy uit ’n langtermynlening ontvang, aan partytjies en bedryfsuitgawes bestee nie.

Ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur mag langtermynlenings net gebruik word om projekte soos infrastruktuur te finansier.

In die metro se oorspronklike sakeplan, wat die tesourie reeds goedgekeur het, sou die geld gebruik word vir nuwe slim watermeters en maniere om onwettige elektrisiteitsaansluitings te bekamp.

Die metro verloor jaarliks 40% van sy water as gevolg van lekplekke en verouderde waterinfrastruktuur, terwyl 14% van die elektrisiteit verlore gaan.

Retief Odendaal, ’n voormalige burgemeesterskomiteelid en DA-lid van die metro se komitee vir begroting en tesourie, het by navraag gesê die verlies aan water en elektrisiteit jaag die metro jaarliks R800 miljoen uit die sak.

In die nasionale tesourie se brief wys hy die metro opnuut daarop dat hy slegs langtermynskuld vir kapitaal-doeleindes mag gebruik.

Hy waarsku ook dat geen betalings aan diensverskaffers gemaak mag word voordat al die wetlike prosedures nagekom is nie.

“Indien die nasionale en provinsiale tesourieë nog nie in kennis gestel is van die lenings nie, stel ek voor dat dit dringend geskied,” lui die brief.

Raadslede krap kop oor wie besluit het om die lenings te verander. Die voorstel vir die verandering is op Dinsdag se raadsvergadering op ’n papier gesirkuleer en het nie op die agenda verskyn nie.

Voordat dié papier sy verskyning gemaak het, het Peter Neilson, die stadsbestuurder, en lede van die metro se komitee oor begroting en tesourie niks daarvan geweet nie.

Odendaal sê dit is ’n raaisel wie daarvoor verantwoordelik is.

Ingevolge die prosedure in die raad moes Neilson dié voorstel aangekondig het. Hy het egter nie ’n woord gerep nie.

Die nasionale tesourie wys die metro opnuut daarop dat hy slegs langtermynskuld vir kapitaal-doeleindes mag gebruik.

Hoewel ’n bedrag van R300 miljoen steeds aan slim watermeters bestee gaan word, wil die metro met sy nuwe plan van die geld benut vir:

* R100 miljoen vir grootmaatinfrastruktuur vir die Florida Heights-eiendomsontwikkeling.

* R1,9 miljoen vir Masiza Inc. wat regsdienste aan die metro verskaf het.

* R45 miljoen vir partytjies en geleenthede in die feestyd. Dit is tien keer meer as wat oorspronklik begroot is, en

* Betalings aan Sebata, die maatskappy wat die metro se finansiële stelsels geïnstalleer het, en Afrisec, ’n veiligheidsmaatskappy, verskyn ook op die lys, sonder enige bedrae daarby.

Odendaal sê die voorstel om geld aan Masiza Inc. en Afrisec te betaal, is kommerwekkend, want die metro het regstappe teen albei maatskappye geneem.

“Ons het sake teen hulle, maar nou wil ons hulle betaal. Dit is kommerwekkend, maar hulle gaan nêrens kom met dié plan nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.