Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro kan miljoene verloor as hy nie hoof aanstel

Die Nelson Mandelabaai-metro het 24 uur om ’n heeltydse finansiële hoof aan te stel, of hy verloor R420 miljoen wat vir dienslewering in die metro geoormerk is.

Athol Trollip en Mongameli Bobani was eens die burgemeester en onderburgemeester van Nelson Mandelabaai. Op dié foto, wat op ’n vorige geleentheid geneem is, help Bobani vir Trollip om die broek van sy oorpak op te trek. Foto: PE Express

Alle oë is dus op die metro se raadsvergadering Vrydag waarop Mongameli Bobani, die burgemeester, en sy koalisieregering gaan poog om dié vakante pos te vul.

Die dringendheid om iemand aan te stel kom in die lig daarvan dat die nasionale tesourie ’n ultimatum aan die metro gestel het: Stel iemand heeltyds aan, of loop die risiko dat enige aansoeke om toelaes wat oorgedra word, in die afwesigheid van ’n finansiële hoof in die toekoms afgekeur gaan word.

Die metro kon in die vorige boekjaar nie die R420 miljoen bestee nie.

Die DA, ACDP en Cope, wat voorheen by wyse van ’n koalisieregering die stad bestuur het, het ’n ultimatum van hul eie op die tafel gesit: Bobani moet op die raadsvergadering van sy burgemeesterskap onthef word, of hulle weerhou hul steun vir die pos om gevul te word.

Nog ’n vereiste is dat die kandidaat vir die pos iemand is wat gekwalifiseerd en geloofwaardig is.

Die huidige koalisieregering het die opposisie se teenwoordigheid in die raad nodig om ’n kworum te vorm sodat die aanstelling goedgekeur kan word.

Die DA, Cope en die ACDP hou 59 setels in die raad van 120 lede. Die regerende koalisie het 55 setels, en die EFF ses setels.

Ngawethu Madaka, die EFF se voorsitter in Nelson Mandelabaai, het bevestig dat hulle voortaan saam met die koalisieregering gaan stem.

Dit kom in die lig van Julius Malema, EFF-leier, se aankondiging dat sy party hom nie meer in enige munisipaliteit by die DA of ANC gaan skaar nie.

Dit sluit egter, volgens Madaka, nie die Nelson Mandelabaai-metro in nie omdat die DA nog nooit die steun van die EFF in die metroraad gehad het nie.

Die DA, ACDP en Cope is dit eens dat hulle nie wil hê dat die stad geld moet verloor nie, maar die manier waarop die “huidige koalisie van korrupsie” die stad in die afgrond in bestuur, laat hulle met geen keuse nie.

Hulle is nie politici nie, maar dobbelaars wat altyd gaan verloor. Een van die dae gaan ons hul korrupsie blootlê.

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, sê Bobani het keer op keer bewys dat hy onbevoeg is om die stad te lei.

“Wat die finansiële hoof betref, hou ons voet by stuk dat ons nie ’n kandidaat gaan steun wat die openbare beursie gaan plunder nie. Die huidige regering kan doodeenvoudig nie vertrou word met die geld wat nie bestee is nie.”

Lance Grootboom (ACDP) het gesê Bobani se administrasie het die tesourie se riglyne geïgnoreer, en die vinger gewys na die metro wat van voorneme is om R10 miljard aan onreëlmatige uitgawes af te skryf.

Bobani het op sy beurt gesê die “dobbelaars” sal misluk.

“Hulle is nie politici nie, maar dobbelaars wat altyd gaan verloor. Een van die dae gaan ons hul korrupsie blootlê.

“Hulle het ’n tekort aan planne en is magsbehep. Hulle sal enigiets doen om weer in beheer te wees.”

Behalwe vir ’n finansiële hoof, wil die metro die vakante poste van ses uitvoerende direkteure in die direktorate vir openbare gesondheid, koöperatiewe dienste, infrastruktuur en ingenieurswese, elektrisiteit en energie, en ekonomiese ontwikkeling, sport en ontspanning vul.

Mkhuseli Mtsila, burgemeesterskomiteelid vir begroting en tesourie, het Woensdag op ’n mediakonferensie gesê die meerderheid van die vakante poste gaan op die raadsvergadering gevul word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.