Die Mangaung-metro-munisipaliteit het ná ’n tussentydse hofbevel die watertoevoer na meenthuiskomplekse in Bloemfontein herstel nadat dit Donderdag afgesny is om individuele erfbelasting in te vorder.
So sê Wilco du Toit, besturende direkteur van National Real Estate, wat 18 meenthuiskomplekse se sake bestuur.
Hy sê National Real Estate het die tussentydse hofbevel Vrydagmiddag teen die metro gekry.
Ook meenthuiskomplekse waarvan die sake deur ander agentskappe bestuur word, se water is afgesny.
Du Toit sê die erfbelasting-wet bepaal duidelik dat ’n regspersoon nie grootmaat-waterlewering aan komplekse kan afsny om individue in die kompleks se agterstallige erfbelasting in te vorder nie.
“Net by National Real Estate alleen was dit 18 komplekse wat geraak is.
“Wat dit erger maak, is die feit dat die water sonder waarskuwing afgesny is.
“Daar is wel op 2 Desember ’n omsendbrief deur Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, uitgestuur dat die munisipaliteit grootmaat-waterlewering gaan beperk aan beheerliggame van deeltitelskemas en huiseienaar-verenigings wat agterstallig met erfbelasting of dienstegeld is.
“Die wet bepaal daar moet 14 dae kennis aan elke individu in die kompleks gegee word, wat nie gebeur het nie.
“Voorts is die metro se skuldinvorderingsbeleid strydig met wetgewing hieroor wat bepaal dat die hele kompleks se water nie afgesny kan word terwyl enkelinge erfbelasting skuld nie.”

Qondile Khedama Foto: Verskaf
Du Toit sê ander eienaars/bestuurders van deeltitelkomplekse wat deur die afsny geraak is, is Mike Spencer Platinum Global, Edric Trust en PPA.
Khedama beloof in sy omsendskrywe van 2 Desember rente sal volledig afgeskryf word sou erfbelasting voor 15 Desember betaal word.
Du Toit sê na daardie brief is vanjaar geen kennis gegee of eers ’n telefoonoproep gemaak dat die afsny van water gaan begin nie.
Mike Spencer van Platinum Global, sê drie van sy deeltitelkomplekse is ook geraak.
“Ons was ook op die punt om hof toe te gaan.
“Ons het die metro al ’n vorige keer oor dieselfde probleem hof toe gevat. Die regskoste vir die een party was R150 000. Sulke regskoste behoort van die betrokke amptenaar of amptenare verhaal te word.”
Khedama sê die metro kan nie sy standaard van munisipale dienste verbeter as inwoners nie erfbelasting en vir dienste betaal nie.
“Daar is eienaars/huurders in meenthuiskomplekse wat vir ons sê dat hulle geld aan beheerliggame oorbetaal, maar dat die beheerliggame nie die geld aan die metro oorbetaal nie.”
* Rekeninghouers wat agterstallig is en wat afbetalingsooreenkomste wil sluit, moet met khethiwe.selepe@mangaung.co.za in verbinding tree, 051 405 8527 skakel of met die naaste klantediens-sentrum in verbinding tree.