Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Metro verdedig metropolisie ná video van man in rolstoel

Die Kaapstad-metro het sy rekord van dissipline en optrede teen personeel wat van wangedrag beskuldig word verdedig ná die skorsing van twee metropolisielede weens ’n voorval waar ’n man in rolstoel rondgepluk word.

Die metro het Vrydag herhaal dat hy dié voorval veroordeel nadat video’s daarvan die vorige dag op sosiale media versprei is, ná ’n betoging oor dienslewering vroeër in die dag toe van die mense in hegtenis geneem is.

JP Smit, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê in ’n verklaring die metro kan nie die optrede van die beamptes goedpraat nie, “ongeag wat die konteks dalk mag wees”.

Twee metropolisielede van Kaapstad is geskors nadat ’n video versprei is waarin hulle na bewering ’n man in ’n rolstoel aanrand. Foto: Skermgreep (Facebook)
’n Man se rolstoel word omgeslaan deur ’n lid van die Kaapstad-metropolisie. Foto: Skermgreep (Facebook)

Hy beklemtoon dat die metro die saak met dringendheid hanteer het en sal voortgaan om dit te doen.

Volgens Smith het die metropolisie, onder leiding van die hoof, Wayne le Roux, “ontsaglike sukses” gehad met bystand aan gemeenskappe wat onder bendegeweld gebuk gaan, soos Hanover Park en Manenberg.

“Die paar klagte elke jaar oor die gedrag van verkeers- en wetstoepassingsbeamptes en metropolisielede kan nie vergelyk word met die vreesaanjaende statistieke wat die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oor die polisie bekend maak nie.”

Volgens Smith is daar meer as 828 voorvalle van hardhandige optrede, moord, verkragting, aanranding en ander ernstige misdade teen polisielede aangemeld net binne 40 dae tydens die staat van inperking.

“Die Kaapstad-metroraad het ’n voortreflike dissiplinêre rekord en tree vinnig op teen personeel wat van wangedrag beskuldig word. Wanneer die feite later vasgestel word, dui dit dikwels op ’n gans ander storie as die aanvanklike aantygings of die selektiewe uitreiking van ’n video.”

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad. Foto: Jonathan Lestrade/Son

Mzukisi Molosi van die Intlungu yaseMatyotyombeni-beweging, wat Donderdagoggend voor die Kaapstad-burgersentrum betoog het, het bevestig die man in die video, Zwelenkosi Ngidi, het aan die betoging deelgeneem.

Ngidi, ’n gemeenskapsleier van Lower Crossroads, is nie een van die betogers wat in hegtenis geneem is nie, maar het na die polisiekantoor gegaan om sy medebetogers by te staan en te hoor waarom hulle voorgekeer is, het Molosi by navraag bevestig.

Die beweging eis basiese dienslewering vir gebiede in Kaapstad waar grondbesettings onlangs plaasgevind het, veral in Khayelitsha, hoewel die metro volhou dat dit nie moontlik is nie.

Ngidi kon teen Vrydagmiddag nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Dan Plato, burgemeester, het Donderdag bevestig dat die metropolisielede onmiddellik geskors is, hangende die uitslag van ’n volle ondersoek.

Hy het in ’n verklaring vir die man om verskoning gevra vir wat hy die oggend ervaar het en gesê dit is nie die behandeling wat van personeel verwag word nie.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid. Foto: Jaco Marais

Mesuli Kama, ANC-woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het Donderdag ook te velde getrek teen die voorval en gesê dat omstanders wat dit afgeneem het glo gedreig is.

“Die voorval benadruk die ANC se standpunt dat alle metropolisielede onder een struktuur onder die polisie se bevel saamgesmelt moet word en lede volle opleiding moet ontvang oor hoe om lede van die publiek te hanteer.”

Die ANC-koukus in die Kaapstad-metro het verder in ’n verklaring gesê dit is “die jongste voorbeeld van ’n kultuur van hardhandigheid, wreedheid en totale verontagsaming van menseregte in die metropolisie.

“Ons is geskok deur dié wreedheid, wat herinner aan die menseregteskendings van die apartheidspolisie, en het ander voorbeelde van dié gevoelloosheid van die metropolisie ook al gesien.”

Dr. Guy Lamb van die Universiteit Stellenbosch (US) se veiligheids- en geweldsinisiatief sê Kaapstad se metropolisie ontvang taamlik goeie opleiding oor hoe om die publiek en mense met gestremdhede te hanteer, maar opknappingskursusse bly nodig.



“Dit is ook ’n vraag van hoe die lede bestuur word, die gesprekke wat rondom sulke voorvalle gevoer word en die institusionele kultuur.”

Meer oor:  Kaapstad-Metro  |  Kaapstad  |  Rolstoel  |  Dienslewering  |  Video
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.