Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mettler-tugverhoor kom metro reeds duur te staan

Belastingbetalers in Nelson Mandelabaai het oor die afgelope 16 maande reeds meer as R4 miljoen aan regsverteenwoordiging opgedok vir die tugverhoor van die metro se geskorste stadsbestuurder, Johann Mettler.

Dié inligting kom uit ’n vertroulike verslag wat op die mees onlangse raadsvergadering aan raadslede uitgedeel is.

Terwyl Mettler by die huis sit omdat sy tugverhoor sloer, het hy ook reeds R3,6 miljoen se salarisbetalings ontvang, sê ingeligtes.

Hy is op 28 September 2018 geskors omdat hy na bewering op vele geleenthede in sy amp as stadsbestuurder gefaal het.

Hy is deur 13 beskuldigings in die gesig gestaar, maar van dit is na verneem word intussen laat vaar.

Johann MettlerFoto: Argief

Hy word tans net beskuldig oor sy optrede op ’n raadsvergadering op 27 Augustus 2018 toe Athol Trollip as burgemeester van die metro onthef is.

Hy het na wat beweer word verskeie besluite geneem wat nie in pas met die munisipale prosesse en die reëls van die raad is nie.

Mettler se tugverhoor sloer onder meer ook omdat hy hom tot die hof gewend het om die proses te probeer keer. Dit het egter nie geslaag nie.

Nqaba Bhanga, die DA se Oos-Kaapse leier, sê hulle gaan by wyse van ’n raadsvergadering alles in hul vermoë doen om Mettler heraangestel te kry. Hy glo vas die tugverhoor teen hom is ’n heksejag wat die metro miljoene uit die sak kan jaag.

Hy het ook daarop gewys dat die nasionale tesourie sy belofte van meer as R3 miljard, wat die metro ontvang het sedert die inwerkstelling van die metro se geïntegreerde busvervoerstelsel (IPTS), terug te trek.

Die nasionale tesourie het reeds ’n brief gerig aan die huidige waarnemende stadsbestuurder, Noxolo Nqwazi, om haar in te lig hy gaan begin deur R800 miljoen van die metro se toekenning te weerhou.

Die tesourie het die metro op die vingers getik oor die bevindinge van ’n forensiese ouditverslag en nadat die metro nie ag geslaan het op die voorstelle wat die tesourie gesê het hy moet implementeer nie.

Die forensiese verslag oor die IPTS lê bedrog en korrupsie met die projek bloot. Mettler het opdrag gegee vir die opstel van dié verslag. Hy het die nasionale tesourie op die hoogte gehou oor die bevindinge, maar toe hy geskors word, het die tesourie niks verder gehoor nie.

“Die verlies van die miljarde rande kan moontlik stopgesit word indien Mettler heraangestel sou word en toegelaat word om die werk waarmee hy begin het, te voltooi.

“Mettler het ’n reputasie om besluite te neem en administratiewe prosesse te implementeer. Die DA eis dat hy terugkeer na sy posisie.”

Raadslede in Nelson Mandelabaai het ’n versoek gerig aan die speaker, Buyelwa Mafaya, om te verseker dat die Mettler-aangeleentheid ’n agendapunt op die volgende raadsvergadering is.

Politieke partye beoog om volgende week hul burgemeesterskandidate bekend te maak.

Die metro is sonder ’n permanente burgemeester vandat Mongameli Bobani se kop in Desember ná ’n wantrouemosie gerol het.

Die onderburgemeester, Tshonono Buyeye, neem waar in sy plek.

’n Nuwe burgemeester sal op ’n volle sitting van die metroraad aangestel moet word.

Die volgende raadsvergadering is op 27 Februarie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.