Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Midvaal leer ANC oor skoon bestuur

Bongani Baloyi, burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit, het verlede Woensdag vir die ANC in Sedibeng “ ’n gratis werkswinkel oor skoon staatsbestuur” aangebied.

Bongani Baloyi, burgemeester van die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit, staan in ’n sinkgat in Vanderbijlpark, wat onder die ANC-beheerde Emfuleni-munisipaliteit val. Langs hom staan Kingsol Chabalala, ’n DA-lid van die Gautengse wetgewer.

Baloyi sê hy het besluit om dié werkswinkel aan te bied nadat die ANC in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit aansoek gedoen het om na die kantore van die Midvaal-munisipaliteit op te ruk om teen die beweerde korrupsie te betoog.

Die DA-beheerde Midvaal val onder die Sedibeng-distriksmunisipaliteit.

“Ek is bereid om nog meer inligting te gee oor hoe om vinnig en beslissend teen korrupsie op te tree,” sê Baloyi in ’n mediaverklaring.

Metro-Beeld-Suid berig sedert Maart oor die Midvaal-munisipaliteit se ondersoek na amptenare se betrokkenheid by beweerde onreëlmatige aanstellings.

“Dit is skokkend dat die ANC in Sedibeng na ons kantore wil opruk om teen korrupsie te betoog, terwyl hul eie munisipaliteite soos Emfuleni en Sedibeng juis weens korrupsie en wanbestuur daarin misluk om dienste aan die inwoners te lewer,” het Baloyi vroeër gesê.

“Die tyd en moeite wat die ANC-beheerde Sedibeng-munisipaliteit gebruik het om na Midvaal op te ruk kan beter benut word om sy eie korrupsie en wanbestuur hok te slaan.”

Baloyi sê die ANC moet eerder op die hoek van Klasie Havenga-straat en Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark betoog.

“Een van die belangrikste en dringendste sake waarteen hy moet betoog, is die Evaton-vernuwingsprojek wat verdwyn het,” sê hy.

Die verplaaste families verdien antwoorde siende dat hul wonings gesloop is vir ’n projek wat nooit voltooi is nie.
Bongani Baloyi, burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het R470 miljoen vir ’n behuisingsprojek toegestaan waarbydie inwoners van die Residensia-township in Emfuleni sou baat.

“Die verplaaste families verdien antwoorde siende dat hul wonings gesloop is vir ’n projek wat nooit voltooi is nie,” sê Baloyi.

Die projek is glo reeds 15 jaar gelede onderneem, maar die inwoners sit steeds sonder ordentlike huise en dienste.

Bongani Baloyi, burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit, en Kingsol Chabalala, ’n DA-lid van die Gautengse wetgewer, poseer voor die onvoltooide taxistaanplek in Vereeniging.

“Midvaal sal aanhou om verantwoordbaar en toegewyd met die dienslewering en die administrasie te wees. Ek wil met enigiemand saamspan wat korrupsie en wanadministrasie in die regering wil beveg,” sê Baloyi.

Die ANC in Sedibeng en Gauteng het teen druktyd nog nie op die mediaverklaring gereageer nie.

Baloyi stel selfs relevante vrae voor wat die ANC in Sedibeng tydens die voorgestelde betoging in Vanderbijlpark kan vra:

  • Wat het met die geld gebeur wat vir die Evaton-projek toegestaan is?
  • Waarom wil die ANC in Gauteng nie die verslag van die projek bekend stel nie?
  • Siende dat die inwoners van die Residensia-township duidelik nie voordeel uit die projek getrek het nie, wie het voordeel hieruit getrek?
  • Indien die ANC wel korrupsie probeer hokslaan, waarom het die Gautengse premier nog geen stappe teen die skuldiges gedoen nie?
  • Waarom neem niemand verantwoordelikheid vir die projek nie?
  • Wat het met die onreëlmatige besteding van R870 miljoen gebeur?
  • Waarom maak die munisipaliteit nie die rioolstelsel reg nie?
  • Wat het gebeur met die geld wat vir die ontwikkeling van die taxistaanplek in Vereeniging bestem is?

Baloyi het die media verlede Dinsdag oor die munisipaliteit se vordering met die ondersoek na die beweerde verkoop van poste ingelig.

  • Amelia Tsukudu, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, is in Maart geskors. Die interne etiekkomitee en die munisipale raad het egter bevind die beweringe teen haar is vals en ongegrond. Sy is heraangestel.
  • Die munisipaliteit gaan dissiplinêre stappe doen teen die geskorste Thom Peeters, adjunk- munisipale bestuurder. Die besluit kom nadat ’n onafhanklike ondersoeker voorgestel het dat Peeters “weens prima facie-getuienis aan ’n dissiplinêre proses onderwerp word”.
  • Die munisipale raad wag nog op die bevindinge en voorstelle van ’n onafhanklike ondersoeker in verband met Albert de Klerk, munisipale bestuurder, se beweerde betrokkenheid by dié skandaal. De Klerk is voorlopig geskors.
  • Annette van Schalkwyk, hoof- finansiële beampte, was geskors, maar sy is intussen heraangestel.
Meer oor:  Anc  |  Bongani Baloyi  |  Midvaal  |  Bestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.