Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Midvaal vat diegene vas wat glo poste verkoop

Die Midvaal-munisipaliteit het onlangs in twee mediaverklarings onthul dat sy hoof- finansiële beampte op spesiale verlof geplaas is én dat hy dissiplinêre stappe teen die adjunk- munisipale bestuurder gaan doen.

Dié besluit volg op ’n onafhanklike ondersoeker se voorstel dat die geskorste Thom Peeters, adjunk- munisipale bestuurder, “weens prima facie-getuienis aan ’n dissiplinêre proses onderwerp word”.

Thom Peeters. Foto: LinkedIn

“Alle partye wat by die raadsvergadering was, het eenparig daarmee saamgestem.”

Peeters word daarvan beskuldig dat hy die munisipale raad se regulasies verontagsaam het toe hy personeel aangestel het voordat hulle vir onderhoude gegaan het. Hy het ook na bewering die prokureursfirma waar sy vrou werk, aangestel.

Annette van Schalkwyk, hoof- finansiële beampte, gaan moontlik geskors word omdat sy van onreëlmatige aanstellings beskuldig word.

Sy moes teen Maandag vertoë aan die munisipaliteit rig waarin sy verduidelik waarom sy nie geskors moet word nie. Die raad het teen druktyd nog nie ’n besluit oor dié saak geneem nie.

Die munisipaliteit sê hy sal seker maak die proses word op ’n regverdige en deursigtige wyse uitgevoer.

“Alle mense word ingevolge wetgewing as onskuldig geag totdat bewys word dat hulle skuldig is.”

Beeld het ook verlede week berig dat Amelia Tsukudu, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, haar pligte as LUR kan hervat nadat ’n etiekkomitee bevind het sy is onskuldig aan die ongerymdhede.

Bongani Baloyi, Midvaal se burgemeester, skryf in ’n brief aan Tsukudu dat die etiekkomitee bevind het die beskuldigings teen haar is “vals en ongegrond”.

Die saak oor die beweerde betrokkenheid van vier direkteure is ook nog nie afgehandel nie.

Kobus Hoffman, VF Plus-raadslid in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, sê in ’n mediaverklaring Albert de Klerk is ook geskors.

Die munisipaliteit vra dat die inwoners geduldig bly terwyl hy die noodsaaklike regsroete volg om geregtigheid te verseker.

Die Midvaal-munisipaliteit val onder dié distriksmunisipaliteit.

“Die VF Plus en ander fluitjieblasers het reeds in 2011 ’n groot oorwinning behaal ná ’n verdoemende verslag deur adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, getiteld “This Can’t Be Right”.

“Dit het gelei tot verdere ondersoeke en verslae deur die spesiale ondersoekeenheid. Daar is egter nooit opgetree nie en die saak het byna ongesiens ’n stille dood gesterf,” sê Hoffman.

“In dié tyd het die DA-beheerde stadsraad klaarblyklik verkies om nie op te tree nie en is die fluitjieblasers, waaronder raadslede Kobus Hoffman en Corrie Pypers, afgedank eerder as om teen die skuldige partye op te tree.”

Die Midvaal-munisipaliteit het nog nie gereageer op die medianavraag wat met dié aantygings verband hou nie.

“Die munisipaliteit wil die hulpbronne deursigtig bestuur en alle vorme van bedrog, korrupsie en wangedrag bekamp,” lui een van die verklarings.

“Ons wil die standaard van ’n effektiewe, toegewyde leierskap en professionele, mededingende werksplek behou.”

Die munisipaliteit vra dat die inwoners geduldig bly terwyl hy die noodsaaklike regsroete volg om geregtigheid te verseker. “Ons wil die inwoners ook verseker dat die munisipale administrasie glad verloop en dat die proses nie enige dienste sal onderbreek of ontspoor nie.”

Meer oor:  Bongani Baloyi  |  Verkoop  |  Munisipaliteite  |  Poste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.