Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Miljoene se pompstasies betaal, maar nooit op Kroonstad opgerig

Die topbestuur van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad en omgewing) het Woensdag in die Vrystaatse wetgewer skerp onder skoot gekom oor drie waterpompstasies waarvoor daar meer as R13,1 miljoen betaal is en wat nooit opgerig is nie.

Lucky Phooko, uitvoerende burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit, Woensdag voor die Vrystaatse wetgewer se openbarerekeninge- en finanskomitee. Foto: Ducks Ntlathi

Die munisipaliteit se topbestuur moes voor die openbarerekeninge- en finanskomitee van die wetgewer in Bloemfontein verskyn om te verduidelik wat by dié “tegnies bankrot” munisipaliteit aan die gang is.

Volgens dokumente is die pompstasie-projek op 3 Oktober 2018 afgeteken, maar op 19 Oktober 2018 is vasgestel dat die werk nooit afgehandel is soos wat voorgegee is nie.

Die strukture wat opgerig is, was onbruikbaar, volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag.

Wateronderbrekings word veroorsaak omdat die bestaande pompe nie in die vraag na water kan voorsien nie.

Die OG het ’n bedrag van R4 miljoen wat by die R13 miljoen ingereken is vir “die tydperk wat die projek gestaan het”, tot vrugtelose en vermorste uitgawes verklaar.

Thuso Marumo, finansiële hoof van Moqhaka, het gesê dat die afdelingshoofde projekte afteken en dat hy dan die geld beskikbaar stel.

Komiteelede wou weet of ’n strafregtelike klag van bedrog teen die skuldige ingedien gaan word wat voorgegee het dat die drie pompe geïnstalleer is. Die komitee het daarop aangedring dat die saak ondersoek word.

Vusi Tshabalala (ANC), komiteevoorsitter, het herhaaldelik vir Marumo gesê dat hy die verantwoordelikheid het om self vas te stel of werk gedoen word.

Thabo Meeko, ANC-LW. Foto: Ducks Ntlathi
Mariette Pittaway en David van Vuuren, DA-LW’s en lede van die Vrystaatse wetgewer se openbarerekeninge- en finanskomitee. Foto: Ducks Ntlathi

Vrae is ook gevra oor die R340 miljoen wat die munisipaliteit aan Eskom skuld. Marumo het gesê samesprekings word binnekort oor ’n afbetalingsooreenkoms met die kragreus gevoer.

Komiteelede het ook vrae gehad oor R64,4 miljoen se onreëlmatige uitgawes wat in die 2017-’18-geldjaar aangegaan is. Volgens die OG het die onreëlmatighede meestal met die voorkeuraankope-prosesse plaasgevind waar soms nie drie kwotasies verkry word nie.

Die OG het ook bevind dat nabye familielede tenders van dié munisipaliteit kry.

Tshabalala se komitee het gelas dat Lucky Phooko, uitvoerende burgemeester, ’n lys beskikbaar stel met al die name van familielede vir wie in die verlede tenders gegee is. Phooko het onderneem om dit te doen.

Tshabalala het gesê mededingendheid is hier ter sprake en dat dit onbillik is dat drie kwotasies nie gevra word nie.

Marumo het gesê dat dit soms gebeur wanneer verblyf bespreek word en sekere hotels vol bespreek is.

David van Vuuren, DA-LW, het gesê dit is baie duidelik dat politici hier onder mekaar tenders uitdeel.

Tshabala het gesê “ons wil weet wie die raadslid, amptenaar of regering is wat dit doen”.

Hy het beswaar gemaak omdat munisipale stelsels gemanipuleer word.

Thabo Meeko, ANC-LW, het gesê ’n prentjie word geskilder van Vrystaatse munisipaliteite wat in ’n krisis verkeer.

“Ons kan nie maar net voortgaan soos altyd nie. Die burgemeester moet betrokke wees. Daar moet bepaal word wie lei vir wie, en wie het vir wie gelieg. Daar moet opgetree word en gevolgebestuur moet ingestel word.”

Dévar Smit, VF-Plus-LW, het vrae gestel oor die 50% vakante poste in die elektrisiteitsafdeling en die skuld van raadslede en amptenare.

Marumo het gesê raadslede skuld die munisipaliteit R215 000 en amptenare R2,4 miljoen.

“Altesaam 14 946 name verskyn op die register vir armlastiges,” het hy ook geantwoord.

Meer oor:  Moqhaka-Munisipaliteit  |  Kroonstad  |  Pompstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.