Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mockesdam leeg: Waterkrisis dreig in noorde van Bfn

’n Waterkrisis bedreig inwoners in die noorde van Bloemfontein wat van die Maselspoort-aanleg water kry. Die aanleg se voedingsbron, Mockesdam, is feitlik dolleeg en daar is net vir enkele dae water oor.

Die feitlik dolleë Mockesdam buite Bloemfontein.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder van die metro, sê hy het pas R40 miljoen betaal sodat Bloemwater water vir Mockesdam uit die Rustfonteindam kan loslaat. “Ons gaan probeer om betyds ’n krisis af te weer. Dit is geweldig droog,” sê hy.

Die Mockesdam voed die Maselspoort-watersuiweringsaanleg wat water onttrek en suiwer en via die Hamiltonpompstasie na die Arboretum-reservoirs in die noorde pomp. Water word van hier aan dié inwoners voorsien.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro wat met watersake belas is, het Woensdag die droë dam besoek.

Hy sê na sy oordeel is die water min en water sal dringend uit die Rustfontein-dam losgelaat moet word.

“Dit neem egter enkele dae om water van die Rustfonteindam, wat op 25,6% staan, aan die Mockesdam te voer.

“Omdat die munisipaliteit dikwels nie proaktief optree nie, word ’n oproep gedoen dat inwoners water uiters spaarsamig gebruik.”

Die Arboretum-reservoirs het Dinsdag op 41% en Woensdagoggend op 25% gestaan.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement waterwese en sanitasie, sê hy is bewus van die probleem. Die metro en Bloemwater sal oor ’n oplossing moet praat en oor hoe water uit die Rustfonteindam losgelaat kan word.

Mangaung sal vir die water moet betaal.

Dit neem egter enkele dae om water van die Rustfonteindam, wat op 25,6% staan, aan die Mockesdam te voer.

Intussen woed ’n dispuut tussen Bloemwater en die metro voort. Bloemwater sê dat Mangaung hom R767 miljoen vir water skuld, terwyl Mangaung ontken dat die skuld so groot is.

* Ook inwoners van die suide van Bloemfontein is die afgelope drie dae deur ’n waterkrisis omdat ’n pyp naby die De Hoek- en Uitkyk-pompstasie herstel moes word.

Talle inwoners en sakeondernemings is sonder water gelaat.

Woensdag teen 14:00 is bevestig dat werk afgehandel is en dat Bloemwater besig is om die laaste gedeelte van die pypleiding vol water te maak, sê Botes.

Water sal die Brandkop-reservoir in die suide van Bloemfontein laat Woensdagmiddag of vroeg die aand bereik.

Meer oor:  Adv. Tankiso Mea  |  Bloemfontein  |  Water  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.