Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Moet dié 11 in Vrystaat se rade ontbind?

Die Vrystaat het 11 wanfunksionele munisipaliteite – waaronder die Mangaung-metro, Matjhabeng (Welkom) en Metsimaholo (Sasolburg) – maar daar is nog nie gesê hul rade moet ontbind nie.

Só sê Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, by navraag oor die kabinetsbesluit dat ingegryp moet word by wanfunksionele munisipaliteite en dat sommige rade moontlik ontbind moet word.

Leona Kleynhans, DA-LPW in die Vrystaat. Foto: Argief

Die ander Vrystaatse munisipaliteite wat as wanfunksioneel gekategoriseer is, is Maluti-A-Phofung (Harrismith), Mafube (Frankfort), Masilonyana (Winburg), Mohokare, (Smithfield), Mantsopa, (Excelsior), Tokologo, (Boshof), Nala (Bothaville) en Kopanong (Trompsburg).

Nxangisa sê hy gaan met die nasionale regering vergader om te hoor presies wat in die Vrystaat gedoen moet word, want dit maak nie vir hom sin om munisipale rade twee of drie maande voor ’n munisipale verkiesing te ontbind soos in sommige nuusmedia berig is nie.

Hy sê volgens die verslag wat hy van die nasionale regering ontvang het, is 11 Vrystaatse munisipaliteite wanfunksioneel, nog 11 loop ’n hoë risiko om wanfunksioneel te word en een, die Lejweleputswa-distrik-munisipaliteit, het ’n lae risiko.

Hy sê in die geval van die Mangaung-metro het die munisipaliteit byvoorbeeld ná ’n ongekwalifiseerde oudit-mening met bevindings verbeter. “Hoe ontbind ’n mens so ’n metro se raad?”

Leona Kleynhans, Vrystaatse DA-LPW gemoeid met munisipaliteite, sê munisipaliteite landwyd stort in duie.

“Die ANC gaan hieroor gestraf word in die verkiesing en daarom moet dit nou lyk asof hy iets doen. Die plan om sommige rade moontlik te ontbind, is nie al aksieplan wat op die tafel is nie.

“Daar is ook spanne met regruk-aksies en ander ondersteuningspanne wat na sommige munisipaliteite gestuur word om sake te verbeter.”

Sy sê die DA is gekant teen die ontbinding van rade, want in so ’n geval word ’n administrateur vir die munisipaliteit aangestel. “As die munisipale verkiesing eers in Februarie volgende jaar is, sit die inwoners sonder enige verteenwoordiger in die raad. Dit is mos nie hoe ’n demokrasie werk nie.”

Sy sê die probleem is die ANC se kaderontplooiing.

Cilliers Brink, DA-LP in Kaapstad, sê daar is ’n klomp rade landwyd wat vir ingryping geïdentifiseer is en die provinsies is gewaarsku om dit so gou moontlik te doen, anders kan die nasionale regering kragtens wet self ingryp.

“Dit wat gesê is, was meer waarskuwingskote wat afgevuur is,” meen hy egter.

Prof. Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê hy is juis besig met ’n artikel oor die onderwerp. Art. 139 van die Grondwet en sy subartikels behels nie dat alle wanfunksionele munisipale rade volledig ontbind word nie.

Die politieke ontleder prof. Theo Venter. Foto: Argief

“Sommige gaan harder getref word as ander en sommige sal dalk net gedeeltelik ontbind word.

“Wat belangrik is, is dat wanneer ’n raad ontbind word, moet daar volgens wet binne ’n sekere tydperk ’n verkiesing wees om ’n nuwe raad aan te stel. Ons het dit by Maluti-A-Phofung (Harrismith, Qwaqwa en Kestell) en ook by die Ditsobotla-munisipaliteit (Lichtenburg) en ’n klomp ander gesien.”

Hy sê die verkiesing op 27 Oktober of later – afhangende van wat die konstitusionele hof vir die Verkiesingskommissie sê – sal ’n nasionale verkiesing van plaaslike regerings wees.

“Dit gaan ’n politieke skoonmaakproses van ondersteuners van Jacob Zuma (voormalige president), Ace Magashule (voormalige Vrystaatse premier) en Supra Mahumapelo (voormalige Noordwes-premier) word.”

Hy sê onderliggend aan die skoonmaakproses is die swak dienslewering en die sterk terugdruk van die munisipaliteite se kant af waar iemand nie wil loop as hy geskors word nie.

Venter sê pres. Cyril Ramaphosa moet binnekort aan die Zondo-kommissie van ondersoek gaan sê wat hy gedoen het om staatskaping hok te slaan.

Hy sal onder meer ’n kabinetskommeling en ingrypings by plaaslike regering kan ophaal. “Ons sal ná 11 en 12 Augustus (wanneer Ramaphosa weer voor die kommissie getuig) sien in watter mate ingegryp is.”

Venter sê om administrateurs by munisipaliteite aan te stel, was tot dusver nie baie suksesvol nie omdat die administrateurs meestal uit dieselfde denkskool kom en deel van die ellende is.

Meer oor:  Vrystaat  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.