Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mokgalapa: ANC se skuld dat Tshwane-geldsake vrot lyk

Dis eintlik die ANC se skuld dat die Tshwane-metro se geldsake so sleg lyk, sê Stevens Mokgalapa, die uittredende DA-burgemeester.

Tshwane se oudit-en-voldoeningskomitee het onlangs in ’n verslag bevind die metro oefen swak interne beheer oor sy geldsake uit en dat hy toelae van die nasionale tesourie onderbestee, wat dienslewering raak.

Die nasionale tesourie dreig nou om honderdmiljoene rand terug te hou omdat die metro teen Desember net 40% van sy begroting vir behuising en vervoer bestee het.

Stevens Mokgalapa
Stevens Mokgalapa

Hoewel die munisipaliteit se onderbesteding deels aan die Glad Africa-sage toegeskryf kan word, meen Mokgalapa die toestand van sy interne geldsake is nie die DA se skuld nie.

“Ons probeer nog die kultuur verander wat onder die ANC posgevat het voordat die DA in 2016 beheer oorgeneem het. Dit vat jare om die kultuur te verander,” sê Mokgalapa.

Dr. Kgosi Maepa, ANC-voorsitter in Tshwane, het Donderdag in ’n selfoonboodskap bloot gesê die toestand van die metro se finansies is deur die DA geskep.

Lex Middelberg, voorsitter van die Tshwane Money Matters Caucus, en ’n voormalige DA-raadslid, sê Mokgalapa praat twak.

“Die DA is op politieke en uitvoerende vlak in beheer en jy kan nie vier jaar later die skuld op die ANC pak nie. Hy pas nie sy eie regulasies toe nie en dit is swak leierskap,” sê Middelberg.

Intussen moet die metro Vrydag in ’n voorlegging aan die tesourie verduidelik hoekom hy nie honderdmiljoene rand moet terughou nie.

“Ons is positief dat die tesourie dit nie sal terugtrek nadat hy die voorlegging gesien het nie. Ons is van plan om die meeste van die begroting teen die einde van die boekjaar te bestee,” sê Mokgalapa.

Hy sê daar is wel genoeg projekte wat aan diensverskaffers uitgekontrakteer is, maar dat dié diensverskaffers nog nie betaal is nie omdat die implementering van die projekte sloer.

Volgens hom sloer die projekte deels omdat die metro verlede jaar sy kontrak met die ingenieursfirma Glad Africa om projekte te bestuur, gekanselleer het.

Die ouditeur-generaal het in 2018 bevind daar was verskeie onreëlmatighede met die aanstelling van Glad Africa onder die DA.

“Ons het Glad Africa eers in Oktober vervang en sake sal nou begin om gladder te verloop,” sê Mokgalapa.

Volgens Middelberg het die DA die afgelope jare elke keer sy toelae onderbestee, terwyl die ANC glo destyds verseker het dat die geld bestee word.

“Die metro moet binne vier maande 60% van sy begroting bestee en ek kan nie sien hoe dit gaan gebeur nie. Boonop is dit die DA wat Glad Africa aangestel het,” sê Middelberg.

MoAfrika Mabongwana, EFF-voorsitter in Tshwane, meen die burgemeesterskantoor het nie die vermoë om die toelae te bestuur nie.

“Die DA in Tshwane is onbevoeg. Die party sien net na homself om en weier nou om die mag af te staan, ondanks die feit dat die meerderheid raadslede dit wil hê,” sê Mabongwana.

Mokgalapa maak die einde van die maand klaar nadat hy vroeër bedank het. Dít kom nadat ’n opname aan die lig gekom het waarin hy en Sheila Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, glo onvanpaste kommentaar oor kollegas gemaak het en na bewering in ’n munisipale kantoor intiem verkeer het.

Die DA het onlangs vir raadslid Randall Williams aangewys as sy burgemeesterskandidaat. Dit is die party se derde burgemeesterskandidaat sedert hy aan bewind gekom het.

Meer oor:  Tshwane-Metro  |  Da  |  Anc  |  Eff  |  Stevens Mokgalapa  |  Verslag  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.