Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mokgalapa wil ‘burgemeester van dienslewering’ wees

Die EFF gaan Stevens Mokgalapa, wat as die nuwe uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad aangewys is, drie maande gun om te wys hy is sy amp waardig.

Stevens Mokgalapa nadat hy Dinsdag as die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad aangewys is. Foto: Christiaan du Plessis

Die DA-benoemde Mokgalapa is Dinsdag op ’n spesiale raadsvergadering in Pretoria sonder enige weerstand van opposisiepartye tot uitvoerende burgemeester verkies.

Hy is die enigste raadslid wat benoem is.

Mokgalapa se oorwinning beteken dat die DA-beheerde koalisie in Tshwane steeds regeer. Hoe lank Mokgalapa aan die stuur gaan bly, is egter onseker. Die EFF se steun is deurslaggewend om hom aan die bewind te hou.

Moafrika Mabogoana, ’n EFF-leier in Tshwane, het aanvanklik op die raadsvergadering gesê Mokgalapa is net verkies om die “burgemeesterstoel warm te hou”.

Mabogoana het egter later by die raadsaal aan Netwerk24 gesê sy party sal die DA-burgemeester ’n billike kans gee.

Die EFF sal Mokgalapa se werksverrigting ná drie maande beoordeel.

“As Mokgalapa ná drie maande nie na wense presteer nie, sal ’n mosie van wantroue teen hom gebring word om van hom ontslae te raak,” sê Mabogoana.

Mokgalapa sê dit pla hom min dat die EFF hom wil beoordeel.

Stevens Mokgalapa word Dinsdag op ’n spesiale raadsvergadering in die Sammy Marks-raadsaal in Pretoria gelukgewens nadat hy as die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad aangewys is.

“Ek gaan net my bes doen en seker maak die inwoners van Tshwane kom eerste. Ons moet lopende water aan sommige inwoners verskaf en water ken nie partye se kleure nie.”

Mokgalapa was voorheen ’n lid van die parlement en het as die DA se woordvoerder van internasionale betrekkinge gedien. Hy is as raadslid ingehuldig om hom vir die burgemeesterspos verkiesbaar te stel.

Solly Msimanga, die DA se voorkeurpremierskandidaat vir Gauteng, word Dinsdag in Johannesburg as lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng deur die speaker, Ntombi Mekgwe, ingehuldig. Foto: Felix Dlangamandla
Solly Msimanga, die DA se voorkeurpremierskandidaat vir Gauteng, word Dinsdag in Johannesburg as lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng deur die speaker, Ntombi Mekgwe, ingehuldig.Foto: Felix Dlangamandla

In sy oorwinningstoespraak het Mokgalapa gesê hy wil bekend staan as die “burgemeester van dienslewering”.

“Die klem moet op vinnige dienslewering vir alle inwoners van Tshwane geplaas word. Ek sal verseker dat daar begroot word om verkeersligte, straatligte en slaggate reg te maak,” het hy gesê.

Dr. Kgosi Maepa, die ANC-leier in Tshwane, het op die raadsvergadering gesê Mokgalapa se voorganger, Solly Msimanga, het dieselfde beloftes gemaak.

“In die toespraak is nie genoeg klem geplaas op dienslewering in townships nie,” sê Maepa.

Hy sê die DA se bewering dat hy ná 2016 se plaaslike verkiesing ’n gebroke munisipaliteit geërf het, is ongegrond.

Die DA beweer dat hy onder Msimanga die stadsraad se begroting van ’n verlies van R2 miljard tot ’n oorskot in 2017 geneem het.

Msimanga het verlede maand sy bedanking uit sy amp aangekondig. Hy wil meer aandag gee aan sy veldtog as die DA se voorkeurpremierskandidaat vir Gauteng.

Charity Moyo, sy woordvoerder, het bevestig Msimanga is Dinsdag in Johannesburg as lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng ingehuldig.

Beloftes

Mokgalapa het in sy oorwinningstoespraak verskeie beloftes gemaak:

* Hy wil op sy voorganger se nalatenskap voortbou deur aan te hou om die finansiële sake van die munisipaliteit reg te ruk.

* Die onreëlmatige betalings in die omstrede Glad Africa-tenderkontrak, waarby die stadsbestuurder, dr. Moeketsi Mosola, betrek word, sal ondersoek word.

* Om te verseker dat senior bestuurders werk van gehalte lewer, sal ’n prestasiestelsel ingestel word om hulle te beoordeel.

* ’n Oudit van townships sal gedoen word om vas te stel waar basiese dienste dringend benodig word.

* ’n Span sal saamgestel word om te verseker dat dienslewering in Tshwane verbeter.

* Geld sal in die aangepaste begroting opsygesit word om onder meer verkeersligte, slaggate en straatligte reg te maak.

* Daar sal met uiteenlopende ondernemings saamgewerk word om te verseker dat Tshwane handelsvriendelik gemaak word.

* Daar sal aan stabiele water- en kragvoorsiening vir ondernemings gewerk word sodat meer beleggings gelok kan word.

* Die Tshwane-metropolisie gaan nouer met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) saamwerk om misdaad te beveg.

* Daar gaan ’n onafhanklike forensiese ondersoekspan wees wat enige beweringe van korrupsie sal ondersoek.

Meer oor:  Stevens Mokgalapa  |  Tshwane  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.