Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Moody’s se afgradering ‘Ace se nalatenskap’

Alhoewel hy die jongste afgradering van die Mangaung-metro se finansiële status deur Moody’s Investor Service nie volledig op die brood van Ace Magashule wil smeer nie, kan die gewese premier deels met sy kaderontplooiingsbeleid hiervoor verantwoordelik gehou word.

So sê prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke wetenskap en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), oor die afgradering van die metro deur Moody’s op grond van die metro se finansiële verslae van die afgelope drie jaar.

Die Bram Fischer-gebou wat die Mangaung-metro se administrasie huisves.

Die metro was ook die slagoffer van die ANC se staatskaping en stropery wat in die Vrystaat aan die gang was en die swak administrasie blyk duidelik uit die ouditeur-generaal (OG) se verslae, sê Neethling.

Die ANC is verantwoordelik vir die vrot bestuur en dienslewering waaronder die inwoners van die metro daagliks ly. Op ’n meer indirekte wyse is dit ook die skuld van Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sê hy.

Werner Horn, LP en DA-kiesafdelingshoof van die Mangaung-metro, sê hy meen die afgradering is net die jongste van ’n reeks duidelike merkers op die pad na die afgrond waarheen die ANC, met Magashule steeds aan die spits, besig is om die Vrystaat te lei.

“Wat ons nou sien is die sneeubal-uitwerking van jare se wanbestuur en die tipe kader-ontplooiing wat Magashule in die Vrystaat gebruik het om sy persoonlike wurggreep op alle staatsinstellings te hou.”

Die agteruitgang vind ook plaas onder die burgemeesterskap van Olly Mlamleli, ’n kornuit van Magashule wat sedert 2016 “oor en oor bewys het dat sy geen belangstelling daarin het om die fundamentele vereistes vir die bestuur van ’n metro” toe te pas nie.

Sy het burgemeester geword ondanks die feit dat sy voor dit ’n monumentale mislukking was as LUR belas met plaaslike regering, sê Horn.

Hans Britz, DA-raadslid met jare se ondervinding as hoof finansiële beampte van dié stadsraad, sê die metro was in die verlede naas Durban die munisipaliteit in die land met die gesondste geldelike posisie.

“ ’n Herstelplan vir die metro van 214 bladsye wat nasionale tesourie in Julie verlede jaar opgestel het, lê en stof vergader.

“Die DA het al hoeveel keer gevra dat die ANC in die raad verslag moet kom doen oor hoe daar met die plan gevorder word, maar niks gebeur nie.

“Daar is nie die politieke wil by die ANC om die benarde geldsake van die metro om te draai nie. Niemand steur hulle aan die waarskuwings van die DA oor die saak nie.”

Britz sê daar is niemand by die metro wat die vaardighede en wil het om die geldsake reg te ruk nie.

“Moody’s se afgradering is net nog ’n teken dat die munisipaliteit oor die afgrond stort. Die volgende stap sal wees dat ’n administrateur vir die munisipaliteit aangestel moet word.”

Mofokeng sê nuwe skuldinvorderaars is ook aangestel om inwoners wat nie vir dienste betaal nie, vas te vat. Hulle sal aangeskryf word en dienste sal ontkoppel word wanneer betalings nie gemaak word nie.

Prof. Elizabeth Snyman van Deventer, Vryheidsfront Plus-raadslid, sê die afgradering was te wagte en is beslis nie goeie nuus vir die regerende ANC reg voor ’n verkiesing nie.

“Swak geldelike bestuur, die ondermyning van finansiële wetgewing, die aanstel van mense wat nie bevoeg is nie, en die feit dat die metro lank sonder ’n finansiële hoof bedryf is, is van die sake wat aan die wortel van die kwaad lê.

“Dit is asof die ANC in die raad nie verstaan dat die belastingpoel net só groot is nie en dat daar omsigtig met die geld omgegaan moet word nie.

“Lyste van armlastiges word net langer en dit plaas al hoe meer druk op die geldkoffer van die munisipaliteit. Vriende kry tenders. Die ou Bloemfontein het geld in sy koffers gehad, maar nou moet geld geleen word om verpligtinge na te kom.”

Sabatha Mofokeng, nuwe finansiële hoof van die metro, sê Mangaung is in gesprek met Moody’s. Moody’s het sy afgradering gegrond op die laaste drie jaar se finansiële status van die metro.

“Ons vra dat daar nie na die geskiedenis van die metro se geldsake gekyk moet word nie, maar na die huidige stand.”

Mofokeng sê ’n finansiële herstelplan vir die metro is in Julie verlede jaar in die raad goedgekeur en word in werking gestel. “Ons was ook die afgelope Dinsdag in gesprek met nasionale tesourie om ons te help om so vinnig as moontlik die meer as R1 miljard in te kry wat staatsdepartemente aan die metro skuld.

“Ons gaan ook die raad vra om die sowat R800 miljoen wat armlastiges die munisipaliteit skuld, af te skryf.”

Mofokeng sê nuwe skuldinvorderaars is ook aangestel om inwoners wat nie vir dienste betaal nie, vas te vat. Hulle sal aangeskryf word en dienste sal ontkoppel word wanneer betalings nie gemaak word nie.

“Ons vra Moody’s om weer ’n gradering van ons geldelike posisie te maak.”

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Ace Maga­Shule  |  Finansies  |  Afgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.