Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Mpumalanga: Gehawende pype laat dorpe sonder water

Inwoners van Eloff, Sundra en Rietkol in Mpumalanga moet water aanry nadat ’n gebarste pyp veroorsaak het dat die krane op dié dorpe die afgelope week droog is.

Die dorpe, in die Victor Khanye-munisipaliteit, ervaar sedert die begin van 2019 probleme met ’n verouderde pypleiding wat water aan die dorpe verskaf.

Vusi Buda, burgemeester, sê hoewel werkers hul bes doen om die pyp te herstel, ervaar hulle probleme.

“Sodra ons die een plek herstel het, bars die pyp weer op ’n ander plek,” sê Buda.

Sodra ons die een plek herstel het, bars die pyp weer op ’n ander plek.

Volgens hom raam ’n verslag oor die verouderde pypleiding dat dit R70 miljoen sal kos om die pype te vervang.

“Die munisipaliteit het nie geld hiervoor nie,” sê hy.

Buda sê die munisipaliteit het onlangs aan die departement van water en sanitasie geskryf oor die situasie, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

Aan die begin van vanjaar het die munisipaliteit en onder meer AfriForum watertenks opgerig.

Diane Bath, DA-raadslid vir Eloff, sê die tenks is op gemeenskaplike plekke opgerig waar mense water kan gaan haal. Die munisipaliteit is veronderstel om die tenks vol water te maak, maar dit word nie gereeld gedoen nie.

“Ons is op, op, op. Regtigwaar,” sê Hester van Staden, ’n inwoner van Eloff.

Sy sê mense met boorgate deel hul water met inwoners wat nie boorgate het nie en sommige vrywilligers ry met bakkies water aan.

“Hier is oumense wat sonder water sit en hier is kinders wat nie kan bad nie,” sê Van Staden.

Olga de Bruin, ’n inwoner van Eloff, sê die water in haar watertenk het Maandag al opgedroog.

“My man ry water aan van die werk af sodat ons skottelgoed kan was, kan bad, kan kosmaak en die huis kan skoonmaak,” sê De Bruin.

My man ry water aan van die werk af sodat ons skottelgoed kan was, kan bad, kan kosmaak en die huis kan skoonmaak.

Rand Water het vroeër vanjaar aangekondig hy gaan die waterdruk na dié munisipaliteit tot 40% verlaag omdat die munisipaliteit sukkel om sy skuld van meer as R100 miljoen te delg.

Die huidige watersituasie hou glo egter nie met die waterdruk verband nie, maar wel met die verouderde pypleiding.

Bath sê sy raai inwoners aan om altyd paraat te wees omdat watervoorsiening aan dié dorpe nie gewaarborg kan word nie.

“Ons weet nooit of ons môre water sal hê nie,” sê Bath.

Volgens haar moet die nasionale regering by die munisipaliteit ingryp om die probleme daar uit te stryk.

Meer oor:  Instandhouding  |  Water  |  Mpumalanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.