Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Msimanga verdedig aanstelling in sy kantoor
Stefan de Villiers (34), uitvoerende hoof van die burgemeester se private kantoor. Foto: Facebook

Tshwane se burgemeester het die aanstelling van ’n senior personeellid in sy kantoor wat net oor ’n matriekkwalifikasie beskik, Donderdag verdedig.

Solly Msimanga, burgemeester, sê die aanstelling van Stefan de Villiers (34), uitvoerende hoof van die burgemeester se private kantoor, was ’n “politieke aanstelling”.

Volgens Msimanga verskil die vereistes vir politieke personeellede van dié vir amptenare in die munisipale administrasie.

“Alle regeringsleiers stel personeellede aan wat vertrou kan word om ons beleid in die regering te bevorder, ons boodskap te kommunikeer en om sensitiewe inligting te hanteer,” het die burgemeester Donderdag in ’n verklaring gesê.

Sy kommentaar volg ná ’n berig in The Citizen waarin beweer word dat De Villiers nie aan die nodige vereistes vir die pos voldoen nie. Luidens die berig is die vereistes vir die pos ’n universiteitsgraad of ’n soortgelyke kwalifikasie, asook 12 jaar se ondervinding waarvan vyf jaar in ’n senior posisie moet wees.

Luidens die berig het De Villiers, ’n liggaamsbouer, matriek aan die Hoërskool Die Wilgers voltooi, en beskik hy oor ’n sertifikaat in persoonlike fiksheidsafrigting.

Samkelo Mgobozi, woordvoerder van die burgemeester, het aan Netwerk24 bevestig dat De Villiers slegs ’n matriekkwalifikasie het, maar dat hy “besig is om ’n graad te voltooi”.

Op die vraag oor watter graad dit is, het Mgobozi geantwoord dat dit “nie belangrik is nie”.

“Stefan is in my private kantoor aangestel en hy speel ’n noodsaaklike rol om te verseker dat ek genoeg tyd in my skedule het om te kommunikeer met al die gemeenskappe in Tshwane,” sê Msimanga in sy verklaring.

“Stefan was by verre die mees gekwalifiseerde kandidaat vir dié taak. Dit is noodsaaklik dat ’n individu wat ek kan vertrou my dagboek beheer om te verseker dat alle gemeenskappe gelyke en voldoende toegang tot hul burgemeester het.”

Msimanga sê hy is bekommerd daaroor dat vertroulike inligting oor sy personeel “selektief” aan die media gelek word.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane. Foto: Morapedi Mashashe

“Die selektiewe of beweerde uitlek van De Villiers se vertroulike personeelinligting kom nadat ek reeds opdrag gegee het dat ’n oudit gedoen moet word oor die werwings- en aanstellingsvoorwaardes van alle bestuurders in Tshwane. Die oudit is nie beperk tot politieke kantore nie,” sê Msimanga.

Volgens die burgemeester beskik die stadsbestuurder oor die mag om ’n voorwaarde te skep in die indiensnemingskontrak waar die kandidaat nie die nodige kwalifikasies vir die pos het nie, maar andersins bekwaam is, om die nodige kwalifikasies binne ’n bepaalde tydperk te bekom.

Msimanga sê ’n nuwe aanstellingsproses sal oorweeg word vir die aanstelling van politieke personeellede, insluitende woordvoerders, politieke adviseurs, strategiese adviseurs en dagboekkoördineerders.

“Ek handhaaf die hoogste etiese standaarde in die bestuur van my kantoor en ek sal voortgaan om deursigtigheid en aanspreeklikheid voor te staan,” sê Msimanga.

Pogings om De Villiers te kontak, was nie geslaag nie. Sy kantoor het aan Netwerk24 gesê dat hy Maandag weer beskikbaar sal wees.

* Marietha Aucamp, voormalige personeelhoof in die kantoor van Msimanga, het in Mei vanjaar bedank ná ’n bohaai omdat sy glo nie oor die regte kwalifikasies vir dié pos beskik nie. Dr. Moeketsi Mosola, stadsbestuurder, het vroeër gesê Aucamp moes nooit as personeelhoof aangestel gewees het nie.

Meer oor:  Solly Msimanga  |  Tshwane  |  Burgemeester  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.