Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipale bestuurder geskors hangende ondersoek

Die munisipale bestuurder van die Setsoto-munisipaliteit, Sugar Ramakarane, is op ’n raadsvergadering hangende ’n ondersoek tot 30 dae met betaling geskors.

Thobeka Zondi het bevestig dat sy die waarnemende bestuurder van dié munisipaliteit, wat Ficksburg, Clocolan, Marquard en Senekal bedien, is nadat Ramakarane “op spesiale verlof geplaas is”.

Sugar Ramakarane Foto: Argiewe

Moses Mokhele, DA-koukusleier, het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê dié party het op 24 Junie ’n spesiale raadsvergadering gehou om die uitvoerende burgemeester se verslag te bestudeer wat handel oor ’n hofuitspraak waarin Ramakarane die eerste applikant, die Setsoto- plaaslike munisipaliteit die tweede applikant, TML Civils (Pty) Ltd die eerste respondent en Sibamu Building Contractors die tweede respondent is.

Hy sê dit is op dié vergadering waar besluit is om Ramakarane te skors.

Dit spruit uit ’n kontrak vir die oprigting van 966 toilette in Ficksburg wat aanvanklik in Maart verlede jaar aan TML Civils toegeken is, maar ongeveer ’n maand later teruggevat is sonder dat die regte prosesse glo gevolg of goeie redes daarvoor verskaf is. Die kontrak is toe aan Sibamu Building Contractors toegeken.

Hy sê TML Civils het nie kans gekry om enige van die werk te doen nie en Sibamu Building Contractors het sowat 87% van die werk voltooi.

“Hulle moes klaar gewees het, maar dit is deur hofsake in die wiele gery.”

Mokhele sê die DA het reeds in Maart verlede jaar dié saak na die stadsraad gebring nadat vasgestel is dat die nodige prosesse nie gevolg is om die tender aan die tweede maatskappy toe te ken nie. Daar was glo ook korrupsie met die bodproses. Hy sê die aanstellingsbrief wat deur die voorkeuraankope-bestuurder van die Setsoto-munisipaliteit aan TML Civils uitgereik is, is glo byvoorbeeld nie onderteken nie.

Mokhele sê die DA het ’n volledige ondersoek na die aangeleentheid gevra, maar dit is van die tafel afgevee.

Hy sê ANC-raadslede het in der tyd volgehou dat die aangeleentheid nie oop vir bespreking is nie omdat dit by die jaarverslag ingesluit is.

Mokhele sê dit moet kategories gesê word dat daar nooit ’n besluit van die raad was om die aangeleentheid na die hof te neem nie. Dit was die eensydige besluit van Ramakarane.

Komane Koalane, burgemeester (ANC), sê TML Civils het hierna met ’n hofsaak teen Setsoto begin en die hof gevra om tussenbeide te tree omdat die kontrak aan Sibamu Building Contractors toegeken is nadat dit by TML Civils weggevat is.

Die hof het die aansoek van Ramakarane op 9 Januarie vanjaar van die hand gewys.

“Die hof het toe beslis dat Ramakarane al sy foute in die toekenning van die kontrak moet regstel. Die hof het ook gesê dat Sibamu nie oorspronklik op die kortlys van maatskappye was wat deur die voorkeuraankope-afdeling saamgestel is nie. Sibamu moet ook ’n voorlegging doen en die ander maatskappy moet ook ’n tweede kans kry. As besluit word dat Sibamu nie die werk mag voltooi nie, moet hulle daarvoor betaal word en as hulle die werk mag voltooi, moet hulle hiervoor betaal word.”

Koalane sê hierna het Sibamu ’n voorlegging gedoen, maar TML Civils het nie die kans gekry om ’n tweede keer ’n voorlegging te doen nie.

Koalane sê Ramakarane het ook aansoek by die hof gedoen dat die hof sy uitspraak op hersiening neem sonder dat dit ’n besluit van die raad was.

“Die hof het die aansoek van Ramakarane op 9 Januarie vanjaar van die hand gewys. Die hof het ook gelas dat Ramakarane vir 50% van die regskoste van albei hofgedinge verantwoordelik is en die munisipaliteit vir die res.”

Ramakarane het op geen oproepe gereageer nie, maar sy kantoorpersoneel in Ficksburg het bevestig dat hy eers op siekverlof was en toe geskors is.

* Hofuitspraak in Netwerk24 se besit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.