Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipale bestuurder van George moet sê oor skorsing

Die munisipale bestuurder van George in die Suid-Kaap, Trevor Botha, het tot Vrydag om redes aan te voer waarom hy nie geskors moet word nie.

Trevor Botha. Foto: Verskaf

’n Mosie deur die DA vir Botha se skorsing as voorkomingsmaatreël het verlede Vrydag op ’n spesiale raadsvergadering gedien. Dit was ’n geslote punt op die agenda en die redes vir die mosie is nie bekend gemaak nie.

Volgens Chantel Edwards-Klose, ’n munisipale woordvoerder, het Botha sewe kalenderdae om skriftelik aan te dui waarom hy ingevolge die dissiplinêre regulasies vir senior bestuurders nie geskors moet word nie.

“Die raad sal ná die verstryking van die sewe dae vergader om die munisipale bestuurder se voorleggings te oorweeg voordat ’n finale besluit oor sy skorsing geneem word.”

Botha het verlede week in verklarings gereageer op ’n ondersoek na die George-munisipaliteit wat deur Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, aangekondig is.

Bredell het in ’n verklaring gesê die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering gaan ondersoek instel na bewerings wat met wanadministrasie, bedrog, korrupsie en/of ander ernstige wanpraktyke by die George-munisipaliteit verband hou.

Die ondersoek fokus onder meer op die George- geïntegreerde openbarevervoernetwerk en onreëlmatige aanstellings by die munisipaliteit.

In een van Botha se verklarings het hy onder meer laat blyk dat die George-munisipaliteit bekommerd is omdat die Old Mutual-bedrogsaak nie deel van ’n ondersoek na beweerde ongerymdhede in dié DA-beheerde munisipaliteit is nie.

In April het Patricia de Lille, leier van die Good-party, bewyse aan die openbare beskermer voorgelê van ’n beleggingskema waaruit voordeel getrek is in dié munisipaliteit waartydens R350 miljoen se staatsgeld van die munisipaliteit na Old Mutual oorgeplaas is.

In Julie het die munisipaliteit bevind dat daar gronde vir De Lille se klag is en dat sy voormalige finansiële hoof, Keith Jordaan, en nog ander geïmpliseer word in ’n skema waaruit voordeel getrek en waarby Old Mutual betrokke is.

Tugstappe is teen Jordaan gedoen en hy is skuldig bevind aan ernstige finansiële wangedrag waarvoor die strafbepaling summiere afdanking is.

* Die ondersoek wat deur Bredell gelas is, duur voort.

Meer oor:  Trevor Botha  |  George  |  Munisipale Bestuurder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.