Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteit ly oor maande se protes

Sewe maande lange politieke onrus in Koffiefontein in die Vrystaat het die Letsemeng-munisipaliteit geweldig geknou deurdat werkers self by klipgooiery betrokke geraak en die munisipale bestuur om veiligheidsredes elders moes gaan werk het.

Die nuwe topbestuur van die Letsemeng-munisipaliteit. Van links is Sithembile Tooi, finansiële hoof, Lucas Mkhweane, munisipale bestuurder, en Sello Bahumi, uitvoerende burgemeester. Foto: Marietjie Gericke

So het Sello Bahumi, nuwe uitvoerende burgemeester, Lucas Mkhweane, munisipale bestuurder, en Sithembile Tooi, finansiële hoof, voor die openbarerekeninge- en finansieskomitee van die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein gesê.

Desondanks het die ouditeur-generaal (OG) se ouditmening van die munisipaliteit vir die 2017-’18-geldjaar verbeter, van ’n weerhouding die vorige jaar tot ’n gekwalifiseerde oudit-mening.

Vusi Tshabalala, voorsitter van die komitee, het uitgewys die OG het bevind dat nie al die inligting aan hom verskaf, betroubaar en bruikbaar was nie.

“Die burgemeester, munisipale bestuurder en senior bestuurders kon geen versekering gee dat die sleutel-beheermaatreëls ingestel is nie.

“Ongemagtigde uitgawes het van R59,7 miljoen in die 2016-’17-geldjaar tot R64,8 miljoen verhoog, terwyl onreëlmatige uitgawes van R101,7 miljoen in die 2017-’18-geldjaar aangegaan is.”

Bahumi het gesê hy is slegs van 4 Maart vanjaar die burgemeester van Letsemeng (Koffiefontein, Jacobsdal en Luckhof) nadat Thandi Reachable, die vorige burgemeester, bedank het.

“Ons kon nie altyd voldoen aan al die wetgewing en munisipale regulasies nie as gevolg van die onrus, maar ons doen nou ons bes,” het Bahumi gesê.

Ongemagtigde uitgawes het van R59,7 miljoen in die 2016-’17-geldjaar tot R64,8 miljoen verhoog, terwyl onreëlmatige uitgawes van R101,7 miljoen in die 2017-’18-geldjaar aangegaan is.

Leona Kleynhans, DA-LW, het gesê die Letsemeng-munisipaliteit kan as voorbeeld gebruik word van wat kan gebeur as ’n munisipaliteit toegelaat word om in die grond wanbestuur te word met protesaksies wat vir sewe maande voortduur.

Nou sê die bestuur dit het hulle “verhinder om hul werk te doen”. Sy het dit ’n “bose kringloop” genoem.

Die munisipaliteit kon R40 miljoen van sy voorwaardelike toelaag nie bestee het en kon dit ook nie terugbetaal nie, omdat die geld vir ander doeleindes gebruik moes word.

Gevolglik het die nasionale tesourie sy gelykeberegtigings-toelaag teruggehou, wat weer ’n geldelike verknorsing veroorsaak het.

Intussen is die waterinfrastruktuur wat met die toelae ontwikkel moes word, nie volledig ontwikkel nie.

Roy Jankielsohn, DA-LW en leier van die opposisie, het gesê met die groot waterskaarste en droogtes kan ’n munisipaliteit dit nie bekostig om te onderbestee aan waterinfrastruktuur nie.

David van Vuuren, DA-LW, het gesê daar is ’n hoë omset van senior bestuur by die munisipaliteit, wat kommerwekkend is.

Mkhweane het verduidelik dat 74 algemene werkers in 2015 aangestel moes word en dat die bykomende salarisse veroorsaak het dat van die toelae-geld gebruik moes word.

Die salarisrekening is egter 39% van die bedryfsbegroting wat binne die voorskrifte van die nasionale tesourie val.

Die salarisrekening is egter 39% van die bedryfsbegroting wat binne die voorskrifte van die nasionale tesourie val.

Jankielsohn het die aanstellings bevraagteken omdat dit “altyd voor verkiesings gebeur”.

Hy het gesê die aanstellings het ’n negatiewe invloed op dienslewering omdat die geld wat vir dienslewering gebruik moes word, vir salarisse gaan.

Bahumi het verduidelik dat byvoorbeeld boetes en rentes wat Eskom op skuld hef, tot verhoogde vrugtelose en vermorste uitgawes aanleiding gegee het totdat ’n behoorlike afbetalingsooreenkoms aangegaan is.

“Omdat begrotings nie met kontant gefinansier word nie, maar op geskatte inkomstes bereken moet word, lei dit ook tot vrugtelose en vermorste uitgawes.”

Dévar Smit, VF Plus-LW, het gevra dat die name bekend gemaak word van werknemers wie se familie en vriende by munisipale tenders betrokke raak.

Hy het ook ’n verslag versoek van al die vakatures en die vereistes daarvan wat ouderdom, geslag en ras betref.

Thabo Meeko, ANC-LW, het gesê dit blyk dat die nuwe topbestuur van Letsemeng baie gretig is om die munisipaliteit reg te ruk. Hy het hulle hiervoor geprys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.