Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteit ‘stel nie belang om kragkrisis op te los’

Hopetown-inwoners wat raadop met die Thembelihle-munisipaliteit se swak dienslewering is, beweer dié munisipaliteit stel nie belang om Eskom se dreigende kragonderbrekings weens wanbetaling die hoof te bied nie.

Dit volg op ’n vergadering verlede week waarin raadslede met inwoners vergader het.

Die Thembelihle-munisipaliteit skuld Eskom sedert September 2012 sowat R67 miljoen.

Hopetown-inwoners is raadop met die Thembelihle-munisipaliteit wat nie strate skoonhou en die stortingsterrein onderhou nie.

Eskom wil van 19 tot 25 Desember op weekdae die elektrisiteitstoevoer tussen 06:00 en 09:00 en tussen 17:00 en 20:30 en op naweke tussen 08:30 en 12:00 en tussen 15:00 en 19:00 onderbreek.

Paul van Niekerk, voorsitter van die Hopetown-gemeenskapsforum, het op die vergadering vir Brenda Mpamba, burgemeester, oor die kragsituasie uitgevra.

Van Niekerk sê haar antwoorde was vaag.

“Sy het gesê sy sal die amptenare uitvra en terugvoering daaroor gee. Sy het aangevoer die raad betaal Eskom en dat sy nie weet van die dreigende kragonderbrekings nie.

“Radiile Shuping, finansiële bestuurder, het egter erken dat die twee grootmaatrekeninge vir elektrisiteit nie betaal word nie,” sê Van Niekerk.

Die dorp se inwoners betaal maandeliks hul munisipale rekeninge en word onregverdig benadeel indien Eskom wel die krag gaan afsit “en dit nog oor die Kerstyd ook”.

“Hopetown het na-ure geen elektrisiën op bystand nie. Daar is net een beskikbaar in werksure. Ek en my werkers het al lekkende pype na-ure reggemaak. Wyksraadslede is selde beskikbaar en inwoners koop onderdele uit hul sak om stukkende pype te herstel, want die munisipaliteit het nie geld nie,” sê Van Niekerk.

Twee jaar gelede het Hopetown en Strydenburg ook twee maande beurtkrag gehad weens wanbetaling van die munisipaliteit.

“Inwoners se vullis word nie elke week verwyder nie, hoewel hulle daarvoor betaal. Die burgemeester sê daar is nie toerusting nie, want die trekker waarmee die vullis verwyder moet word, is gereeld stukkend, maar die munisipaliteit het onlangs ’n splinternuwe bakkie gekry,” sê Van Niekerk.

“Hopetown se stortingsterrein is ’n onooglikheid vir die dorp omdat dit teenaan die N12-hoofpad lê,” sê Van Niekerk.

CJ van Pletzen, ondervoorsitter, sê: “Die Hopetown-gemeenskapsforum moes met inwoners se ledegeld die stortingsterrein skoonmaak. Dit het ons R36 500 gekos om ’n laaigraaf te huur en diesel te koop. Die munisipaliteit het geen geld hiervoor bygedra nie. Die inwoners betaal om die dorp skoon te hou.

“Ons gaan die hele dorp se straatnaamborde vervang, want party borde is onleesbaar en ander strate het nie eens straatnaamborde nie. Die forum het ook onlangs watertoevoer na die skouterrein en kleinboere self herstel.”

Hopetown-inwoners het self die straatnaamborde vervang.

Talle straatligte wat buite werking is, maak dit gevaarlik vir inwoners wat onder misdaad kan deurloop.

Michael Jack, munisipale bestuurder, sê amptenare en raadslede het vrae oor die dreigende kragonderbrekings bevredigend beantwoord.

“Die munisipaliteit kom die betalingsooreenkoms na. Ons is besig om die ooreenkoms met Eskom te heronderhandel om te verseker dit is volhoubaar. Ons sal die voorstel op die volgende raadsvergadering voorlê sodat ’n besluit geneem kan word.

“Die munisipaliteit is besig met ’n skoonmaakprogram. Ons erken dit moet aanhoudend in alle wyke gedoen word, en sal harder saam met werkers van die uitgebreide openbare werke-program werk, hoewel ons nie genoeg werkers het nie.

“Ons gaan ’n opvoedings- en bewustheidsveldtog lei om inwoners van omgewingsake en sindelikheid bewus te maak. Die gemeenskap moet saamwerk om skoon te maak.”Hy sê die gemeenskap stort vullis onwettig buite die terrein, wat volgende jaar omhein gaan word.

“Ons het nie genoeg werkers en masjinerie om die terrein beter te bestuur nie. Die nuwe terrein is ’n tegniese uitdaging en ons werk met die owerhede saam om dit vinniger in werking te stel.

“Ons doen ons bes om stukkende ligte te herstel en onderdele te bestel. Vandale maak dit nie makliker nie. Ons is dankbaar dat die gemeenskap die straatnaamborde vervang het, en kyk na goedkoper maniere om dit ook te doen.”

Jack sê hulle bly aan die gemeenskap verantwoordelik en het onlangs ’n aksieplan binne die begroting saamgestel om dienslewering te verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.