Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteit stort in duie, maar bestee glo R25 m.

Dís nou ’n rit wat die moeite werd was: Een van net 60 km waarvoor ’n eis van R5 000 ingedien is.

Hierdie “meevaller” is een van ’n paar ernstige beweerde geldelike ongerymdhede wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) by die Ratlou-munisipaliteit in Setlagole, Noordwes, ondersoek. Die eis was glo een van die maniere waarop petrolkaarte vir Covid-19-reise misbruik is.

Hoewel Ratlou een van ’n paar munisipaliteite in die provinsie is wat die provinsiale regering wil ontbind omdat dit in duie gestort het, het die munisipaliteit blykbaar minstens R25 miljoen gehad om aan Covid-19-verwante uitgawes te bestee.

’n Finale besluit oor die ontbinding van Ratlou en die ander munisipaliteite is nog nie geneem nie.

Kaizer Kganyago, die SOE se woordvoerder, sê ’n fluitjieblaser het aan die eenheid gesê ’n senior amptenaar in Ratlou het ander amptenare glo beveel om verskaffers van Covid-19- beskermende toerusting aan te stel wat bekend is aan dié senior amptenaar. Die regte verkrygingsprosedures is glo nie gevolg nie en die betrokke diensverskaffers het opgejaagde pryse gevra – meer as wat die nasionale tesourie voorskryf.

Volgens Kganyago was die SOE genoodsaak om ’n hofbevel te bekom om verlede Vrydag beslag te lê op dokumente en toerusting by die munisipale kantoor in Setlagole omdat die munisipaliteit glo nie sy samewerking wou gee met die ondersoek nie.

Mmoloki Cwaile, LUR vir samewerkende regering in Noordwes, het die beslaglegging verwelkom. “Dis jammer en skokkend dat sommige amptenare (glo) nie saam met die SOE wil werk nie en die proses in die wiele probeer ry.”

Tebogo Chanda, munisipale bestuurder, ontken die bewerings van bedrog en korrupsie teen hom en die munisipaliteit en sê dis “misleidende fiksie”. Hy beskryf die SOE se klopjag as ’n “Hollywoodagtige, verdagte stap en vuilspel deur diegene wat hul hande op munisipale geld wil lê”.

Dis jammer en skokkend dat sommige amptenare (glo) nie saam met die SOE wil werk nie en die proses in die wiele probeer ry.

Chanda sê die munisipaliteit gee wel sy samewerking met die ondersoek en dis “kwaadwillige leuens” dat inligting weerhou word. “Diegene wat die munisipaliteit wil stroop, gebruik die SOE vermoedelik daarvoor. Net toe die munisipaliteit bestendig word en dienslewering verbeter, kom hierdie goed georkestreerde plan aangevuur deur valse, ongetoetste bewerings oor ongerymdhede van R25 miljoen.”

Kganyago sê pas nadat aangekondig is dat Ratlou in Januarie vanjaar onder administrasie geplaas sou word, het die munisipaliteit glo inderhaas betalings aan onder meer verskaffers van beskermende toerusting gemaak, sonder om seker te maak die dienste is volgens tersaaklike voorskrifte gelewer.

“ ’n Groep mense het die administrateur en haar span by die munisipale kantoor weggejaag. Die administrateur kon gevolglik nie by die kantoor inkom om dokumente aan ons te verskaf nie.”

Kganyago sê die munisipale bestuurder het na bewering ’n dag nadat die munisipaliteit onder administrasie geplaas is, ’n spesiale raadsvergadering belê waartydens die burgemeester en speaker verwyder is. “Senior bestuurders is in sekere kernposte aangestel soos dié van finansiële hoof, al is die raad sy magte weens die administrasieproses ontneem.”

’n Hof het daarna bevind dié vergadering was onwettig. Die administrateur het die munisipale bestuurder en ander amptenare toe tydelik geskors hangende die uitkoms van tugoptrede teen hulle oor die beweerde Covid-19-ongerymdhede.

Die munisipale bestuurder (Chanda) het ’n geding teen sy skorsing in die arbeidshof verloor, maar volgens Kganyago gaan die raad voort om die administrateur se rol te ontken en word die munisipale bestuurder steeds toegelaat om dienste te lewer ondanks sy skorsing.

Chanda sê die bewerings oor “uitsmyters” is onwaar. Volgens hom het die raad hom opdrag gegee om sy werk as munisipale bestuurder te hervat nadat die hooggeregshof in Mmabatho glo die administrateur se aanstelling ter syde gestel het. “Hier is geen administrateur nie.”

Dineo Thapelo, woordvoerder van die departement van samewerkende regering in Noordwes, het Woensdag gesê die administrateur is steeds in haar pos. “Die departement het aansoek om verlof tot appèl teen die hofbeslissing gedoen en die saak is uitgestel.”

Meer oor:  Soe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.