Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteite kan nie staatsgrond as sekuriteit aanbied – kenner

Wetgewing verbied ’n plaaslike munisipaliteit om grond as sekuriteit aan te bied.

So sê Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions, wat AgriSA in 2017 gehelp het om ’n oudit oor landbougrond in die land te doen.

“Die wet sê jy kan nie staatsgrond as sekuriteit aanbied vir enigiets nie,” het Bornman Woensdag gesê na aanleiding van die nuus dat die Matjhabeng-munisipaliteit in Welkom in die Vrystaat 139 plase as sekuriteit aan Eskom gebied het totdat die skuldgeskil van R2,5 miljard tussen hulle afgehandel is.

“Plaaslike munisipaliteite weet goed dat meentgrond (dorpsgrond) deur wetgewing beskerm word.”

Hy meen ook die munisipaliteit “sluk ’n groot wind” as hy sê hy het 139 plase as sekuriteit aangebied.

“Dit kan nie soveel plase wees nie omdat van die plase in dié omgewing meer as een titelakte het.”

Een van die toegangspaaie na Welkom. Foto: Tebogo Letsie

Bornman sê voorts as jy die skuld van R2,5 miljoen deel deur die 52 000 ha is die gemiddelde waarde per hektaar R48 000.

“Tans is die waarde van grond in daardie omgewing sowat R24 500 per ha.

“Ek het na statistieke gaan kyk en gesien 63% van die grond wat van 1994 tot en met verlede maand in die Welkom-omgewing verkoop is, gemiddeld 375 ha groot is.

Dit beteken as hulle sê dit is 139 plase wat betrokke is, is dit meer as 52 000 ha.

“Om dit in perspektief te bring: Volgens die geverifieerde data wat ek het, is daar in die hele Vrystaat sedert 1994 tot en met Augustus vanjaar net 136 grondtransaksies gedoen. Die totale oppervlakte is 45 000 ha.

“Hulle (die munisipaliteit) het waarskynlik meer grond wat ou grond is (grond wat voor 1994 in die ou bedeling aangekoop is), maar dit is hoogs onwaarskynlik dat daar 139 plase betrokke was.”

Plaaslike munisipaliteite weet goed dat meentgrond (dorpsgrond) deur wetgewing beskerm word.

Bornman sê hy het in ’n stadium ’n berekening gedoen wat gewys het sowat 25 miljoen huise kon gebou word op die meentgrond wat aan munisipaliteite landwyd behoort en vir dorpsontwikkeling geoormerk is.

Dit sou baie gehelp het om te voorsien in die groot behoefte aan huisvesting.

Die regering sê in sy jongste syfers 1,9 miljoen ha grond is beskikbaar (meentgrond en erwe). In die Vrystaat is daar 72 090 ha beskikbaar.

“So, ek weet nie waar kom die munisipaliteit aan sy 52 000 ha nie,” sê Bornman.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, wat al baie jare by die grondhervormingsproses in die land betrokke is, sê dit is moeilik om te bepaal presies hoeveel grond daar in staatsbesit is.

“Dit is omdat staatsgrond nie alles onder een naam by die aktekantoor geregistreer is nie. Dit is onder meer as 400 name geregistreer.

“Die staat besit grond in verskeie vorme wat insluit grond van die nasionale regering in verskillende staatsdepartemente, staatsondernemings, provinsiale en plaaslike regerings.

“Daar is byvoorbeeld nog plase wat geregistreer is onder die naam van die eertydse Gazankulu-ontwikkelingskorporasie (in die ou Gazankulu-tuisland in Limpopo).

Dit lê daar as dooie kapitaal. Dit behoort geprivatiseer te word.

Munisipaliteite het ook rojaal grond aangekoop. “Daarom is boere nie verras dat ’n munisipaliteit soos Matjhabeng soveel grond het nie.

“Die werklikheid is dat die grond wat deur plaaslike regerings gekoop is, meestal verlate en onproduktief is en die infrastruktuur is verwoes en geplunder,” sê De Jager.

Die groot probleem met grondhervorming is steeds die korrupsie wat daarmee gepaard gaan.

“Wat nou nodig is, is ’n soort Zondo-kommissie om na dié korrupsie te kyk. Dit sal die Zondo-kommissie na kinderspeletjies laat lyk,” sê De Jager.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê “by verre te veel grond lê vrugteloos in die staat se hande”.

“Dit lê daar as dooie kapitaal. Dit behoort geprivatiseer te word.”

Meer oor:  Johann Bornman  |  Munisipaliteite  |  Staatsgrond  |  Sekuriteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.