Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteite onder administrasie ‘vaar selfs vrotter’

Vrystaatse munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, “is nou selfs slegter daaraan toe”.

Dévar Smit, VF Plus-LPW, sê in ’n verklaring ingrypings by munisipaliteite kragtens art. 139 van die Grondwet “is nie ’n werkbare oplossing vir mislukte munisipaliteite nie”. ANC-beheerde munisipaliteite “het nie die wil of die vermoë om die situasie om te keer nie”.

“Die enigste oplossing is om die munisipaliteite te verdeel in kleiner, meer vaartbelynde munisipaliteite wat nader aan die gemeenskappe diensbaar kan wees.”

Die munisipaliteite is Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling), Masilonyana (Winburg, Brandfort en Theunissen) en Maluti-a-Phofung (Harrismith, Kestell en Qwaqwa).

Stand van sake

Weens ongefinansierde begrotings bestaan die moontlikheid dat die nasionale tesourie Maluti-a-Phofung en Masilonyana se gelykeberegtigingstoelae vir die volgende kwartaal kan weerhou.

Swak bestuur by Maluti-a-Phofung het veroorsaak dat meer as die helfte van die enorme R4,5 miljard-skuld aan Eskom boetes en rente behels.

“ ’n Voortdurende magstryd tussen die topbestuur en die administrateur van Mafube veroorsaak dat inwoners ly,” sê Smit.

“Mokhele Notsi, administrateur, het aangedui dat die werkverhouding versuur het sedert die munisipaliteit twee jaar gelede onder administrasie geplaas is.”

Smit sê die Mafube-munisipaliteit is lank reeds nie meer ’n lopende saak nie. Sedert die art. 139-ingryping het sake nie verbeter nie, maar in der waarheid verder agteruit geboer. Dienslewering is tot stilstand geruk en het nog nie hervat nie omdat die munisipaliteit nie voertuie of toerusting het nie. Die munisipaliteit se bankrekening is gevries en salarisse word gereeld nie betyds betaal nie. Die derdepartybetalings is ook nie op datum nie.

“Salarisse beloop meer as die munisipaliteit se gelykeberegtigingsbedrag. Teen 104% van die toelaebedrag is daar geen ruimte vir die betaal van agterstallige skuld nie.”

Leona Kleynhans, DA-LPW, sê by navraag sy stem saam dat al die Vrystaatse munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is nou slegter daaraan toe is.

Masilonyana is intussen uit administrasie gehaal, “hoewel sy syfers ’n riller is en hy swakker daaraan toe is as voor administrasie”.

Maluti-a-Phofung was vir 18 maande onder provinsiale administrasie, maar is nou onder gesamentlike administrasie van die provinsiale en nasionale regering.

“Dit lyk sover positief, maar ons sal moet kyk wat gebeur,” sê Kleynhans.

LUR ‘gee nie antwoorde’

Dié munisipaliteite sou die afgelope twee weke voor die Vrystaatse wetgewer se komitee vir finansies en openbare rekeninge verskyn het, maar hul verskyning is voortdurend uitgestel.

Een van die redes hiervoor was die afwesigheid van Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Nxangisa het Maandag, toe die munisipaliteite wel verskyn het, gesê die wetgewer moet sy komiteesittings sinchroniseer omdat hy nie tegelykertyd by meer as een komiteevergadering kan wees nie.

Smit sê in sy verklaring die LUR kon nie op Maandag se vergadering konkrete antwoorde gee op die vrae wat aan hom gerig is nie. Hy het eerder met politieke gevegte begin en sy party se mislukkings voor apartheid se deur gelê, lui die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.