Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Munisipaliteite vergaan; maar salarisse styg

’n Derde van die land se munisipaliteite is heeltemal wanfunksioneel, en landwyd word net ’n derde van die voorgeskrewe bedrag aan opknapping en instandhouding van infrastruktuur bestee. Munisipale bestuurders se salarisse groei vinniger as inflasie, terwyl munisipale inkomste jaarliks afneem.

Kenners sê dié soort wanbestuur kan binnekort die einde van munisipaliteite beteken, met verreikende gevolge vir inwoners. Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Maandag gesê party stede is op die rand van finansiële ondergang, weens jare lange wanbestuur.

“Suid-Afrikaanse dorpe en stede is verantwoordelik vir sowat 80% van die land se nasionale groeikoerse. Ons kan nie toelaat dat dit ondergaan nie,” sê Nene.

Volgens die departement van samewerkende regering en tradisionele sake is ’n derde (31%) van die land se munisipaliteite wanfunksioneel en nog 31% amper so.

Die tweede uitgawe van “The Capable Cities Index” (CCI), wat in Maart deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gepubliseer is, wys munisipaliteite kon in 2016 net 35% van geld wat hulle toekom betyds vir dienslewering invorder. Munisipale skuld beloop landwyd meer as R143 miljard, waarvan 70% deur huishoudings geskuld word.

Kevin Mileham, DA-skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake, sê dit is onwaarskynlik dat munisipaliteite dit sal kan verhaal. “Van die kleiner metro’s vorder 20% van hul skuld in en kan min doen om verbruikers te dwing om hul skuld te betaal. Ons begin ’n punt bereik waar munisipaliteite ineenstort.”

’n Verslag van die nasionale tesourie wys die inkomste vir alle munisipaliteite in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar was 1,1% minder as vir dieselfde tydperk in die vorige boekjaar. Sowel Noordwes as die Vrystaat se munisipale inkomste het met sowat 14% afgeneem. Tog het munisipale beamptes se salarisse met gemiddeld 9% gestyg sedert die vorige boekjaar. Salarisse van Wes-Kaapse munisipaliteite het met gemiddeld 13% toegeneem, terwyl munisipale inkomste met net 4% toegeneem het. In Gauteng het salarisse met 11% toegeneem, terwyl munisipale inkomste met 2,6% gedaal het.

“Jy vind dat munisipale bestuurders veelvoudige karre en lyfwagte het, al kan die munisipaliteit nie dienste lewer nie,” sê Mileham.

Verslae wys dat nie naastenby genoeg bestee word aan opknapping en instandhouding van infrastruktuur nie. “Dit laat inwoners se lewenspeil agteruitgaan,” sê Eu­gene Brink, AfriForum-raadgewer oor gemeenskapsake.

Meer oor:  Kevin Mileham  |  Nhlanhla Nene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.