Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
N-Kapenaars moedeloos oor stroop van leë geboue

Terwyl Noord-Kapenaars moedeloos raak oor leë skoolgeboue en ou hospitale wat deur vandale gestroop word, beplan die premier om onbenutte staatsgeboue te verkoop om beurse aan jong mense te gee.

Die afgebrande skoolkoshuis in Britstown word gevandaliseer. Foto: Verskaf

Volgens inwoners het hul klagtes die afgelope jare op dowe ore geval terwyl die gevandaliseerde geboue ’n teelaarde vir misdaad geword het.

In Strydenburg is die ou skool wat volgens inwoners meer as 100 jaar oud is, reeds van gietysterpype, dakplate en houtvloere gestroop.

Albert van Drimmelen, ’n inwoner, sê hy het talle klagte by die departement van paaie en openbare werke ingedien om die vandalisme stop te sit.

“Ek het foto’s en video’s geneem, maar dit verloor toe niemand optree nie. Die gietysterpype en die gietyster-mangate se deksels en rame is opgekap en as skrootmetaal verkoop. Die dakplate en vloerplanke is reeds gestroop, die vensters sal seker volgende uitgeruk word.

“Volgens my kennis mag daar nie aan die gebou geraak word nie, omdat dit so oud is. Die gebou kon al vir soveel werk- of welsynsprojekte ingespan word, en nou vergaan dit net.”

Die skoolkoshuis in Britstown, wat ’n paar jaar gelede afgebrand het, word volgens ’n inwoner as ’n dwelmnes gebruik.

“Ek het gehoor ’n vrou is onlangs daar verkrag. Misdadigers besteel mense op straat en gaan soek skuiling in die koshuisgebou waar mense te bang is om hulle voor te keer. In skooltyd rook kinders in die murasie. Dit is ’n onooglikheid in die dorp.”

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, sê hulle is besig om ’n kontrakteur aan te stel om die koshuisgebou te sloop. Die werk behoort teen einde Julie afgehandel te wees.

Inwoners van Britstown voel onveilig weens vandale en dwelmgebruikers wat die skoolgebou misbruik. Foto: Verskaf

Die ou Sentraal-Karoo-hospitaal in De Aar word die afgelope jaar deur vandale gestroop.

Martin Barnard, plaaslike inwoner, sê hy is “gatvol”.

“Die hospitaalgebou is heeltemal gestroop en nou word die ou verpleegstershuise se dakke gestroop. Selfs die heinings en heiningpale word gesteel. Dit lawaai snags is so erg dat ek nie kan slaap nie. Ons klagtes val op dowe ore. Selfs vorige koerantberigte het nie die probleem gestuit nie.

“Die sekuriteitswagte en polisie kom magteloos voor. Moet die inwoners self ingryp? Moet die geboue nou gesloop word om misdaad te voorkom?”

Hy meen sekere polisie-eenhede kon van die geboue as kantore gehuur het. “Hier is ook ’n gebrek aan ’n ouetehuis vir arm bejaardes. Organisasies wat met slagoffers van fetale alkoholsindroom werk, sou ook van die geboue kon gebruik maak, maar dit is reeds te laat.”

Chrystal Robertson, woordvoerder van die departement van openbare werke en paaie, sê dr. Zamani Saul, premier, het duidelike instruksies gegee oor wat met leë en gevandaliseerde staatsgeboue gedoen moet word.

Saul het in sy provinsiale rede gesê hy gaan die premierswoning en ander onbenutte staatsgeboue verkoop om geld te in vir die premier se beursfonds om beurse aan jong mense te gee om werkloosheid te verlig.

Die historiese ou skoolgebou van Strydenburg word ook gevandaliseer. Foto: Verskaf

“Ons departement, as die beskermheer van staatsgeboue, is besig met ’n opname van onroerende eiendom,” sê Robertson.

“Ingevolge wetgewing moet ons ’n konsultasieproses volg om provinsiale staatsdepartemente te vra of hulle belangstel om geboue te benut.

“Daarna kan nasionale departemente, munisipaliteite en die publiek aandui of hulle in die geboue belangstel voordat dit van die hand gesit sal word.”

Die gevandaliseerde skoolgebou van Strydenburg. Foto: Verskaf
Die binnekant van die gevandaliseerde Sentraal-Karoo-hospitaal in De Aar. Foto: Verskaf
Die gevandaliseerde Sentraal-Karoo-hospitaal in De Aar. Foto: Verskaf
Die ou skool in Karos word ook gevandaliseer. Foto: Verskaf

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.