Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
N2 by Plet oop ná ooreenkoms met betogers

Die N2 by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap is Saterdag oopgestel vir verkeer nadat dit sedert Dinsdag gesluit was weens gewelddadige betogings in die gebied.

Ontstoke inwoners het motorbande gebrand en voertuie met klippe bestook.

Die Bitou-munisipaliteit het in ’n verklaring gesê die gesamentlike operasionele span wat die betogings gemonitor het, het Saterdagoggend vroeg byeengekom en besluit om dié pad weer vir verkeer oop te stel.

Die N2 by Rastas, oorkant Weldon Kayawas, is sedert Dinsdagaand vir verkeer gesluit nadat voorvalle van klipgooiery voorgekom het. Verkeer is tydelik via Robbergweg herlei.

Altesame 81 betogers is teen Vrydag in hegtenis geneem.

Daar was sedert Dinsdag betogings op die N2 by Plettenbergbaai. Foto: Verskaf

Sers. Chris Spies het vroeër aan Netwerk24 bevestig die verdagtes word deur verskeie aanklagte in die gesig gestaar en is aangekeer tydens die polisie se ingryping om die protesoptrede in die dorp te ontlont.

Betogers is ontevrede oor behuising, die hoë werkloosheidsyfer en ’n gebrek aan geriewe vir die jeug.

Luidens ’n verklaring van die Bitou-munisipaliteit het politici en raadslede Vrydagmiddag met die leierskap van die Qolweni-gemeenskap vergader.

Onder andere Msimbothi Lobese, burgemeester, Sandiso Gcabayi, adjunkburgemeester, Euan Wildeman, speaker van die raad, en Mphakamisi Mbali, ’n burgemeesterskomiteelid, het die gemeenskap besoek om oplossings te probeer vind en die betogers het aangedui dat hulle sal ophou met hul protesoptrede.

Daar is ooreengekom op die volgende voorwaardes:

* ’n Skakelkomitee vir die gemeenskap sal gestig word om kwessies van dienslewering met die munisipaliteit te bespreek;

* Besprekings oor dienslewering sal gefasiliteer word deur die Menseregtekommissie (MRK), wat ook ’n plan van aksie sal opstel;

* Die MRK sal dophou of die aksieplan geïmplementeer word; en

* Die Qolweni-gemeenskap en ander rolspelers sal gereeld ingelig word oor die vordering wat met die plan gemaak word.

Luidens die verklaring sal Sanral en die Bitou-munisipaliteit die versperrings en rommel op die pad verwyder.

Die polisie hou steeds brandpunte in dié gebied dop.

Intussen het die munisipaliteit ook sy medelye uitgespreek met families wat geliefdes verloor het in ’n busongeluk Vrydag op die Robbergpad.

Die bestuurder en twee ander passasiers is dood en 43 passasiers is beseer. Die bus was uit Kaapstad na Port Elizabeth op pad met 71 passasiers.

Die Bitou-munisipaliteit het Vrydag in ’n verklaring gesê die bestuurder het moontlik weens die nat toestande by ’n skerp draai beheer oor die voertuig verloor voordat die bus omgeslaan het.

Meer oor:  Bitou-Munisipaliteit  |  Plettenbergbaai  |  Betogings  |  N2
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.