Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nelson Mandelabaai ‘verloor’ dam water

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het die afgelope boekjaar letterlik ’n dam vol water “verloor” en daar is tans net 30% bruikbare water in die stad se opgaardamme oor.

Kougadam. Foto: Verskaf

As dinge op dié trant voortgaan, loop die stad die gevaar om teen volgende jaar kurkdroog te wees. Om sake te vererger was die afgelope maand in Port Elizabeth die droogste Augustus in menseheugenis.

Volgens agendapunte van die metropool se begrotingskomitee het inwoners van Nelson Mandelabaai in Junie vanjaar 3,918 miljoen kiloliter water vermors. Dit is genoeg om 1 567 Olimpiese swembaddens vol te maak.

Dit dra by tot die totale verlies van 44,2 miljoen kiloliter water wat in die 2018-’19-boekjaar verkwis is. Dit is meer as die maksimum inhoud vir die Kromrivierdam (voorheen die Churchill-dam), een van die metropool se vernaamste opgaardamme en verteenwoordig sowat 43,9% van die stad se jaarlikse waterverbruik. Dit is ’n toename van 300 000 kiloliter op die 2017-’18-boekjaar.

Dié waterverliese kom ten spyte van die munisipaliteit se pogings om gebarste pype en waterlekke te herstel en die rehabilitering en instandhouding van die metro se waterinfrastruktuur.

In April het die metro R233 miljoen van die Oos-Kaap se toewysing van R1,2 miljard vir droogteverligting van die nasionale tesourie ontvang.

Dit is egter onduidelik wat die munisipaliteit met dié geld gedoen het om te verseker die metro se krane loop nie leeg nie.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het nie Donderdag op medianavrae hieroor gereageer nie.

Inwoners van die metro mag volgens die huidige vlak C-waterbeperking slegs 50 liter water per persoon per dag gebruik. Die doelwit is om die stad se daaglikse watergebruik tot 250 000 kiloliter te beperk.

grafika

Na verneem word gebruik inwoners van die metro gemiddeld 270 000 kiloliter water per dag.

Sputnik Ratau, nasionale woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê die Algoa-waterstelsel, met sy damme wat die metro en die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit van water voorsien, lê op 40,9% teenoor 41,7% verlede week.

Die Kouga- en die Loerie-damme het gedaal tot 43,1% en 42,3%. Verlede week was dié damme onderskeidelik 56% en 53,1% vol.

Die Impofu-dam bly laag op 20,1%.

Garth Sampson, woordvoerder van die plaaslike weerkantoor, sê Nelson Mandelabaai se totale reënval van 3 mm vir Augustus was ’n rekordlaagtepunt sedert 1900.

Dit is ver minder as die vorige laagste syfer toe 4,7 mm reënval in Augustus 1985 gemeet is. Die gemiddelde reënval vir Augustus is gewoonlik 63,7 mm.

“Die laaste goeie reën in die metro was in 2012. Die laaste vloed was in 1981. Enige reënval minder as 50 mm gaan nie ’n daadwerklike verskil maak aan die damvlakke nie.”

Die metro bevind hom nou in dieselfde penarie as in 2017 toe damvlakke ook tot die 40%-merk gedaal het.

grafika

Athol Trollip, die destydse burgemeester, het toe verskeie gebeurlikheidsplanne, soos streng waterbeperkings en uitgebreide waterbesparingsveldtogte, gelas.

Trollip sê hy is bevrees die huidige regering het hom nie daarop toegespits om voort te gaan met hierdie veldtogte en maatreëls nie.

“Ons leef in ’n gekkeparadys as ons dink die metro se water gaan nie heeltemal opdroog nie. Daar was bitter min reënval en hier is die somermaande ook nou op hande.”

Trollip het bevestig dat fase drie van die Nooitgedacht-laevlakskema weens ’n gebrek aan finansiering van die nasionale regering nooit voltooi is nie.

Net sowat ’n derde van die bouwerk aan dié watersuiweringsaanleg is voltooi.

Dié aanleg is die derde fase van die laevlakskema wat al jare lank beplan word om water via die Groot Visrivier na die metro te gelei.

Ali Sablay van Gift of the Givers sê hy dink nie Suid-Afrikaners besef hoe ernstig die watersituasie is nie en hoe dit hulle gaan raak indien daar nie ’n druppel water oor is nie.

Met verwysing na die Nelson Mandelabaai-metro sê Sablay hy was een keer verbaas om te sien dat sekere inwoners steeds hul tuine met tuinsproeiers natmaak.

“Die mense wat van tuinsproeiers gebruik maak en die munisipaliteit se water daarvoor aanwend is selfsugtig, want die metro se water word vir almal toegewys.”

Lance Grootboom van die ACDP sê dit is duidelik dat die metro se voorsorgmaatreëls nie werk nie, aangesien die hoeveelheid water wat hulle jaarliks verloor, vermeerder.

“Ons kan nie bekostig om dié skaars hulpbron te verloor nie.”

In Makhanda het die Settlers-, Jameson- en Milner-damme reeds opgedroog.

Anele Mjekula, woordvoerder van die Makana-munisipaliteit, sê die stad is nou geheel en al afhanklik van die klein hoeveelheid water wat deur boorgate en die James Kleynhans-watersuiweringsaanleg verskaf word. “Fase een van ’n plan om water te rantsoeneer word onmiddellik in werking gestel. Dit kan opgeskaal word na fase drie.”

Meer oor:  Nelson Mandelabaai  |  Droogte  |  Dam  |  Water  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.