Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Net 2 sentra vir rybewystoets

Pretoria-inwoners kan nou by slegs twee pleks van vyf verkeersentrums in die stad rybewystoetse doen – ’n situasie wat vir veral ryskole ’n kopseer is.

Oor die standaard van een van dié toetssentrums hang daar boonop ’n groot vraagteken.

Die Tshwane-metro het verlede maand praktiese bestuurstoetse tot die toetssentrums by Centurion en Waltloo beperk. By die sentrum in Akasia word geen toetse meer afgeneem nie, terwyl die sentrum by Bronkhorstspruit slegs leerlingrybewystoetse doen.

Nadat ek gekla het, is ’n geen-toegang-padteken wel aangebring en een geel pyl op die pad geverf.

Die toetssentrum by Rayton is al nagenoeg twee jaar vir opgraderings gesluit.

Jaco du Plessis, mede-eienaar van J&J Academy Driving School, sê dit pla hom omdat hy nou verder moet ry om die onderskeie toetse by verskillende toetssentrums te doen.

Martin Cronje, die eienaar van Smiles Driving Academy, beaam dit: “Ek het altyd leerlinge by Akasia vir toetse geneem, maar moet nou partykeer Midrand of Kempton Park toe ry. Die ekstra kostes wat daarmee gepaard gaan, het reeds ’n negatiewe uitwerking op my onderneming gehad,” sê hy.

Lewis Lennox, eienaar van die Top Instructor Defensive Driving School, meen die feit dat die Waltloo-sentrum een van die twee oorblywende sentrums is, is ’n vreemde besluit omdat dié geriewe volgens hom nie op standaard is nie.

“Ek het al verskeie klagtes ingedien, maar daar is nog nie veel gedoen om aan die probleme aandag te gee nie.”

Ván die probleme wat Lennox in sy verslag aan die metro uitgelig het, sluit onder meer onvoldoende padtekens, onversorgde gras en verskeie gevalle waar die toetsterrein nie aan wetgewing voldoen nie in.

Volgens wet moet die terreintoets in ’n geslote omgewing plaasvind, maar Lennox sê dit is nie by Waltloo die geval nie.

“Daar is ’n parkeerterrein wat spesifiek vir leerlingbestuurders is, maar daar is geen toegangsbeheer om ander motoriste daar uit te hou nie,” sê Lennox.

“Die praktiese toets begin dus in ’n parkeerterrein waartoe enige voertuig toegang het. Daarna ry die kandidate op ’n stuk pad waartoe die publiek ook toegang het. Die toets word dus nie in ’n geslote omgewing afgelê nie.”

Laasgenoemde pad is ook waar padtekens volgens Lennox nie op standaard is nie.

“Een van my studente het sy toets gedruip omrede hy in die verkeerde rigting in ’n eenrigtingstraat op is, maar daar was voorheen geen padteken om toegang te verhoed nie.

“Nadat ek gekla het, is ’n geen-toegang-padteken wel aangebring en een geel pyl op die pad geverf.”

Ek is nie bewus van ander ryskole wat enige klagtes oor Waltloo ingedien het nie.

Lennox se eerste klagtes aan die metro is in 2017 mondeling ingedien. Hierna het hy al drie keer skriftelik gekla.

“Met die uitsondering van die geen-toegang-padteken wat aangebring is en verskeie stopstrate wat in toegeetekens verander is, voldoen die Waltloo-toetsterrein steeds nie aan die vereistes van die wet nie,” sê hy.

In terugvoering aan Lennox meld Vuyi-sile Sibeko, die hoof van die Waltloo-toetsterrein, dat die terrein wel aan die minimum vereistes van die wet voldoen.

“Soos alle ander toetssentrums is Waltloo onderhewig aan inspeksies en sanksies indien dit nie aan die standaarde voldoen nie,” sê Sibeko in sy skrywe.

“Ek is nie bewus van ander ryskole wat enige klagtes oor Waltloo ingedien het nie.”

Du Plessis sê hy lei doodeenvoudig sy studente op om die praktiese toets te doen ooreenkomstig hoe die toetsterrein opgestel is.

Cronje meen ook dat ’n kandidaat met behoorlike opleiding nie by Waltloo probleme met die praktiese toets behoort te ondervind nie.

Die metro het nie teen druktyd op Metro-Beeld-Noord se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.