Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Net Kaapstad het genoeg geld

Munisipaliteite se gebrek aan finansiële volhoubaarheid moet dringend aangepak word. Antoinette Slabbert berig.

Kaapstad is die enigste van die agt metrorade wat finansieel volhoubaar is. Foto: iStock

Dit sal die regering R51 miljard kos net om die land se munisipaliteite se huidige kontanttekort te delg, toon ’n onafhanklike ontleding deur Ratings Afrika. Dié bedrag het binne net een jaar met meer as die helfte gestyg.

Volgens die ekonoom Mike Schüssler sou dit beteken die regering moet sowat 3% van die landsbegroting gee net om munisipaliteite staande te hou.

“Hulle sal geld wat vir ander dinge beplan was, moet wegvat, maar daar is nie meer plek om aan enigiets te besnoei nie.”

Die enigste ander opsie is om belasting te verhoog.

Uit die land se agt metrorade is Kaapstad die enigste wat finansieel volhoubaar is. Tshwane, wat in Maart verlede jaar deur die ANC onder administrasie geplaas is en weens politieke toutrekkery maande lank leierloos was, vaar die swakste van die spul.

Belasting moet dalk verhoog word.

Die DA het in Oktober weer die leisels in Tshwane oorgeneem en probeer sedertdien red wat te redde is.

Die burgemeester, Randall Wil­liams, het die afgelope week gesê die koers waarteen verbruiker­skuld ingevorder word, het van 75% tydens die vroeë inperking gestyg tot 88%.

Volgens Schüssler is die swak prestasie van die metrorade uiters slegte nuus vir die ekonomie. Meer as 60% van die land se ekonomiese bedrywighede vind binne die grense van die agt metrorade plaas.

Die skokkende stand van munisipaliteite blyk uit ’n onafhanklike ontleding van die 105 grootste munisipaliteite en die agt metrorade se finansiële state vir 2019-’20 deur onafhanklike ontleders van Ratings Afrika. Dit word vandag vir die eerste keer in Rapport bekend gemaak.

Ratings Afrika ontleed sedert 2011 jaarliks munisipaliteite se geldsake en wys op die “dramatiese agteruitgang” van munisipale finansies landwyd. “Die enigste uitsondering is die meeste van die Wes-Kaapse munisipaliteite,” sê Ratings Afrika.

Dié jongste ontleding dek die 12 maande tot einde Junie verlede jaar en sluit dus net drie maande van die Covid-19-pandemie in. Leon Claassen van Ratings Afrika het aan Rapport gesê die volle impak van die pandemie op munisipaliteite se sake sal waarskynlik eers in die huidige boekjaar ten volle duidelik word. Hy verwag die moeras waarin die meeste munisipaliteite hulself bevind, sal net dieper word.

Claassen en sy kollega Charl Kocks skryf die ellendige toestand toe aan wanbestuur en gebrekkige korporatiewe bestuur. Oor die reusekontanttekorte sê hulle: “Dit is geen wonder dat dienslewering in die meeste munisipaliteite in duie stort en die infrastruktuur teen ’n ongekende tempo ingee nie. Suid-Afrika staan voor ’n debakel van ongekende omvang as dié gebrek aan finansiële volhoubaarheid nie dringend en doeltreffend aangepak word nie.”

Hulle sê die meeste munisipaliteite het eenvoudig nie bedryfskapitaal om hul diensverskaffers, waaronder Eskom en die waterrade, tydig te betaal nie en dis vir hulle feitlik onmoontlik om dienslewering vol te hou sonder geld. Dít het katastrofiese gevolge vir inwoners en kan tot politieke onrus lei, sê hulle.

Die rade bestee die minimum aan die herstel en instandhouding van infrastruktuur, wat die agteruitgang net versnel.

Die ontleders se bevindings stem ooreen met stellings deur die Vereniging van Suid-Afrikaanse Sakekamers (Asac) wat in ’n onlangse voorlegging aan die energiereguleerder Nersa gesê het: “Die stand van sake in die meeste munisipaliteite is rampspoedig en wanbestuur by munisipaliteite is ’n nasionale ramp.” Volgens Asac word geen doeltreffende stappe gedoen om sukkelende munisipaliteite reg te ruk nie. Kragverskaffing gaan jaar ná jaar agteruit en kragsekerheid word deur swak bestuur belemmer.

Die DA het die afgelope week onthul minstens vyf Oos-Kaapse munisipaliteite het weens kontantvloeiprobleme versuim om pensioenbydraes wat van hul personeel se salarisse afgetrek is oor te betaal.

Volgens die DA se leier in die Oos-Kaapse wetgewer het die Dr. Beyers Naudé-, Sondagsriviervallei-, Groter Kei-, Amahlathi- en Walter Sisulu-munisipaliteit op 1 April verlede jaar saam R42 miljoen aan pensioenfondse geskuld, plus ’n verdere R19 miljoen se rente.

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) het die afgelope week in die parlement gevra dat politieke partye die kaliber van raadslede heroorweeg.

Volgens Salga het byna 30% van raadslede tans nie matriek nie. Salga se uitvoerende hoof, Xolile George, het gesê byna 70% van raadslede het net matriek of laer kwalifikasies.

Hy het ook gevra of daar opgetree word teen munisipale amptenare wat tenders aan familielede toeken en versuim om hul verbintenis te verklaar.

Intussen wend al hoe meer gemeenskappe en belanghebbendes hulle tot die hof; of rol soos die mense in die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Koster, self moue op om te doen wat hul owerhede versuim om te doen.

Die pluimveeprodusent Astral Foods het die afgelope week ’n hooggeregshofbevel gekry om die nasionale regering en die nasionale tesourie te dwing om by die Lekwa-munisipaliteit in Standerton in te gryp sodat inwoners verseker kan wees van water en krag.

Die Menseregtekommissie het Woensdag gesê hy ondersoek klagtes dat sommige inwoners van Kimberley in die Sol Plaatje-munisipaliteit al drie dae sonder water sit.

Meer oor:  Verkiesing  |  Politiek  |  Munisipaliteite  |  Dienslewering  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.