Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
NMB-begroting nié goedgekeur

Die Nelson Mandelabaai-metro se kapitaal- en bedryfsbegroting van R12,6 miljard is nie op Woensdag se raadsvergadering goedgekeur nie.

Dit ondanks ’n opdrag verlede week aan raadslede van al die partye om te vergader sodat kwessies rondom die begroting opgelos kan word.

Buyelwa MafayaFoto: Lulama Zenzile

Buyelwa Mafaya, die speaker, wou Woensdag met die intrapslag weet of die vergaderings tussen die verskillende partye wel plaasgevind het.

Die burgemeesterskomiteelid en hoof van die komitee vir begroting en tesourie, Mkhuseli Mtsila, moes toe erken die speaker se opdrag is nie uitgevoer nie.

Mafaya wou die vergadering drie uur lank verdaag sodat die partye kon beraadslaag, maar die raadslede het dit nie verwelkom nie.

Athol Trollip, voorsitter van die DA se federale raad, het op Woensdag se vergadering gesê daar is nie met die amptelike opposisieparty gepraat nie.

Volgens Trollip het hy Dinsdagaand ’n oproep van die burgemeester, Mongameli Bobani, se kantoor gekry om te vra of die opposisie die begroting sal steun.

Hy meen die regte prosedures moet gevolg word.

Lance Grootboom van die ACDP het ook gesê die regerende koalisie het nie met hulle gekommunikeer nie.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance (PA) het gesê die PA sal nie Woensdag enige vergaderings bywoon nie.

“Die regerende partye toon geen respek vir die ander partye in die raad nie,” het Daniels van hom laat hoor.

Die ANC se Rory Riordan het voorgestel dat raadslede ná Donderdag se komiteevergadering vir die begroting en tesourie byeenkom om die begroting te bespreek.

Die EFF en die PA het in reaksie hierop gesê hulle is nie Donderdag beskikbaar nie.

Mafaya het die vergadering ’n tweede keer uitgestel in die hoop dat die partye hul probleme kan uitstryk voordat die raadsvergadering binne sewe dae hervat.

Donderdag se begrotingsvergadering gaan voort.

Dit het op verlede week se raadsvergadering, toe Bobani die begroting ter tafel lê, aan die lig gekom dat 91% van die wyksbegroting vir die Nelson Mandelabaai-metro aan die armer wyke toegeken gaan word.

Dit beteken dat daar van al die metro se belastingbetalers verwag sal word om 7,7% meer aan eiendomsbelasting te betaal.

Die voorgestelde verhogings is soos volg:

* eiendomsbelasting – 7,7%;

* water – 7,5%;

* sanitasie – 7,5%;

* vullisverwydering – 7,5%; en

* elektrisiteit – 13,04% (afhangende van Nersa, die nasionale energiereguleerder, se goedkeuring).

* Vier nuwe DA-raadslede is op Woensdag se raadsvergadering beëdig. Hulle is Nicholas Nyati, Kobus Botha, Teslin Booysen en Tshepo Ndwalaza.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.