Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
NMB-metro kry nuwe burgemeester – maar wie?
Mongameli Bobani pak sy dokumente op in die raadsaal kort nadat ’n mosie van wantroue teen hom as burgemeester in Desember geslaag het. Foto: Lulama Zenzile

Politieke partye in die Nelson Mandelabaai-metro het Woensdag nie ’n woord gerep oor wie die metro se volgende burgemeester kan wees nie, maar was dit eens dat dié amp Donderdag weer gevul moet word.

Dié stoel is al langer as vier maande leeg nadat die UDM se Mongameli Bobani as burgemeester uitgestem is by wyse van ’n wantrouemosie.

Thonono Buyeye van die AIC het kort hierna die leisels as waarnemende burgemeester oorgeneem.

Maar in Februarie het verskeie politieke partye hul geskille opsy geskuif om ’n versoekskrif te onderteken wat die speaker versoek om ’n spesiale raadsvergadering te belê waartydens ’n nuwe burgemeester verkies kan word.

Saam het dié partye 62 handtekeninge gekry, wat ook Bobani se handtekening ingesluit het.

Die versoekskrif het gevolg op ’n vergadering wat in Pretoria tussen Bantu Holomisa, leier van die UDM, en die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, gehou is.

Albei leiers het dié ontmoeting bestempel as “gesprekke oor moontlike gesprekke”.

Die vergadering het egter bespiegelings laat opvlam dat die DA en die UDM, soos ná die 2016- munisipale verkiesing, weer saam in ’n koalisieregering kan tree.

Die partye se verhouding het skipbreuk gely toe die DA vir Bobani, destyds die adjunkburgemeester, uit dié amp en hul koalisie geskop het.

Teen Woensdag het Bobani gesê hy is self nog onseker oor wat die plan vir Donderdag se spesiale raadsvergadering is. “Op die oomblik word daar steeds vergaderings gehou en onderhandelings gevoer.

“Al wat ek nou kan bevestig, is dat die UDM môre (Donderdag) op die vergadering teenwoordig sal wees en sal deelneem.

“Ek hoop regtig daar sal ’n burgemeester verkies word, aangesien ons stad nou al te lank leierloos is en dienslewering daaronder ly.”

Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, wat verlede week uit die provinsiale wetgewer bedank het om as die party se burgemeesterskandidaat in die metro te staan, het Woensdagmiddag nog geen duidelike antwoord gehad oor moontlike koalisievennote nie en het gesê hulle werk nog aan die saak.

Die PA se Marlon Daniels, wie se party al menige keer voorheen ’n kernrol in die magsverhoudings gespeel het in die metro, het op sy beurt gesê die PA sal die kleiner partye se kandidate as burgemeester en adjunkburgemeester steun.

“Ons soek nie ’n ANC-, DA- of EFF-kandidaat nie.

“Ons sal saam met die groot partye werk, maar net as hulle kan verseker die kleiner partye sal vir die burgemeester- en adjunkburgemeester-poste ondersteun word.

“Maar eintlik is daar nie een mens of party wat kan sê hulle weet op die oomblik wat môre (Donderdag) gaan gebeur nie. Dinge kan nog oornag verander,” het Daniels gesê.

Na verneem word, het die ANC ná ’n dag van vergaderings en onderhandelings eers later Woensdagmiddag met die ANC se provinsiale uitvoerende komitee vergader waar die finale besluite geneem sou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.