
Mongameli Bobani
Son Deon Ferreira
Mongameli Bobani, voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, is Woensdagaand in ’n hospitaal in Port Elizabeth aan Covid-19 dood.
Danie Gouws, sy prokureur, het omstreeks 19:45 gesê Bobani se vrou, Nosakhele, het hom ’n halfuur vroeër laat weet dat hy gesterf het.
“Dit is so hartseer. Hy was nie net my kliënt nie, hy was ook my vriend. Ons het aan huis by mekaar gekuier. Ek, my vrou en kinders is verskriklik hartseer op die oomblik,” het Gouws Woensdagaand aan Netwerk24 gesê.
Netwerk24 het vroeër berig Bobani het op 16 Oktober op ’n raadsvergadering siek begin voel. Hy is daarna huis toe en het aan sy vrou gesê hy voel nie goed nie. Hy wou die hele naweek nie eet nie en het gekla van hoofpyn. Hy is op 20 Oktober hospitaal geneem toe hy kortasem geraak het.
Die volgende dag het die toetsresultaat bevestig dat hy die koronavirussiekte opgedoen het.