Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
NMB: Vingers heen en weer gewys oor ‘tenderbedrog’

Die ANC se Andile Lungisa moes aan sy party gaan verduidelik waarom hy misdadige aanklagte in die gesig staar oor sy beweerde inmenging by ’n munisipale tender van die Nelson Mandelabaai-metro.

Jonathan Lawack, DA-raadslid en voormalige speaker van die metroraad, het Donderdag ’n strafregtelike klag hieroor teen Lungisa by die Humewood-polisiekantoor ingedien.

Lawack het daarop besluit omdat Lungisa volgens hom doelbewus die Munisipale Finansiële Bestuurswet oortree het.

Volgens Lawack dien ’n brief wat onlangs na bewering deur Lungisa uitgestuur is en waarin hy eienaars van plaaslike maatskappye vra om vir die bou van ’n konstruksie-aanleg te tender, as bewys van die inmenging en bedrog wat glo voorgekom het.

Andile Lungisa Foto: Theo Jeptha/Argief

Ingevolge wetgewing is raadslede nie veronderstel om betrokke te raak by enigiets wat met tenders verband hou nie. Hulle mag ook nie inmeng by die metro se verskaffingsketting nie.

Luyolo Nqakula, die ANC se streekskoördineerder in Nelson Mandelabaai, sê die ANC het by wyse van medianavrae bewus van die brief geword.

Volgens Nqakula het Lungisa die ANC verseker die brief is vals en dat hy dit nie geskryf of uitgestuur het nie.

Hy het sy vinger gewys na ’n lid van sy span en Rosie Daaminds, die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer.

Nqakula sê Daaminds is ook ingeroep oor die aangeleentheid. Sy het op haar beurt gesê sy is op geen manier betrokke by die skryf van die brief nie, en sy het skriftelik bewyse aan die stadsbestuurder gestuur om haar onskuld te staaf.

Volgens Nqakula het dit aan die lig gekom dat ’n lid van die EFF betrek word by die beweerde bedrog, wat daartoe gelei het dat R150 000 glo van hande verwissel het.

“Die saak gaan aangemeld word by die polisie en misdadige klagtes gaan aanhangig gemaak word. Die ANC wil ’n beroep doen op die EFF om teen sy lid op te tree.”

Die ANC sê hulle gaan stappe doen teen enige van hul lede wat betrek word by die saak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.