Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nog geen besluit oor lot van 500 van Kaapse brandweer

Daar is nog geen besluit geneem oor die lot van sowat 500 brandbestryders se toekoms by die Kaapstad-metroraad nie met vakbonde en die metro wat mekaar oor en weer beskuldig.

Die metroraad sê in ’n verklaring die vakbond Samwu is besig om vals inligting oor die afdanking van lede te versprei.

Die metroraad het voorstelle aan die lede en vakbonde gemaak om die kwessie, wat reeds twee jaar sloer, op te los sonder dat enige van die 439 lede hul werk verloor.

Dit spruit uit ’n onwettige staking in 2019 waarin agtuur-skofte eerder as skofte van 24 uur geëis is en die brandbestryders die gevaar loop dat hulle in tugprosesse afgedank kan word.

Samwu sê dit is nie die vakbond wat ’n vertraging veroorsaak nie, maar die metroraad wat nie die kwessies ernstig opneem en hul voorstelle nie eens oorweeg nie.

Volgens die metroraad het Samwu onredelike en onbekostigbare vereistes.

Brandbestryders tydens die verwoestende brand sowat twee weke gelede in Kaapstad. Foto: Argief

Mikel Khumalo, streeksbestuurder van Samwu, sê hulle het in Desember 2020 voorstelle aan die metroraad gestuur waarin hulle verskeie voorstelle gemaak het, onder meer om die 24-uur-skof na agtuur- of 12-uur-skofte te verander.

Volgens Khumalo het die metroraad volstrek geweier om dit eers te oorweeg.

Tydens die staking het sowat die helfte van Kaapse brandweerstasies se lede gestaak. Die metroraad het ’n dringende interdik by die arbeidshof bekom sodat hulle weer hul werk hervat. Die metroraad se betoog was dat hulle die publiek in gevaar gestel deur nie by die werk te wees nie.

Volgens die arbeidshof se uitspraak het Samwu geen reg gehad om ’n onwettige staking aan te hits nie, omdat brandweerdienste ’n noodsaaklike diens is.

Volgens die uitspraak moet die partye gesamentlik ’n ooreenkoms bereik.

Die metroraad en Samwu het bevestig hulle het ná die hofuitspraak vergader en Samwu moes eerste hul vereistes op skrif stel. Hulle het dit in Desember 2020 aan die metroraad gestuur.

Volgens die metroraad het hy op 8 April sy repliek aan Samwu gestuur, wat die vakbond nie aanvaar het nie.

“Dit is nie dat ons dit nie aanvaar het nie, dit gaan oor die metroraad wat geen van ons vereistes in ag geneem het nie en net hul eie besluite geneem het,” sê Khumalo.

Volgens die metroraad het brandbestryders hulle regstreeks begin kontak omdat die vakbond hulle nie op hoogte gehou het oor die proses nie.

’n Vergadering is Donderdag gehou om hierdie lede in kennis te stel oor wat die metroraad se aanbod is.

Volgens die metroraad wil hulle die mediasieproses afhandel sodat dit nie tydens die tugproses plaasvind en sommige lede dalk hul werk verloor nie. Dit is iets wat die raad wil vermy.

Die voorstelle sal egter nie bekend gemaak word nie omdat dit as ’n interne proses beskou word.

Daar is egter ’n kleiner groep van 55 lede wat meer ernstiger aanklagte in die gesig staar omdat hulle die publiek in gevaar gestel het deur die onwettige staking aan te hits. Daarom sal die metroraad se tugproses teen hierdie lede voortgaan, onder leiding van ’n onafhanklike voorsitter.

Samwu is veral baie bekommerd oor die lang werkure van 24-uur-skofte. Brandbestryders word ’n toelae vir bystandwerk betaal.

Lede werk ongeveer sewe en ’n halwe uur meer as enige stadsraadwerkers per maand en verdien daarom ’n hoër bystandtoelaag. Hierdie toelag is vergoeding vir hul tien 24-uur-skofte per maand.

Samwu vereis dat die toelaag 79% van hul basiese salaris moet wees. Dit beteken R250 miljoen per jaar sal aan hierdie departement alleenlik bestee moet word.

Lede is ongelukkig oor bestuurders wat normale agtuur-skofte werk, maar steeds ’n bystandtoelaag verdien.

Die metroraad het ’n verhoging van 22,8% tot 35% aangebied, maar volgens hom is dit van die hand gewys.

Khumalo sê dit gaan nie regtig oor geld nie.

“Lede is ongelukkig oor bestuurders wat normale agtuur-skofte werk, maar steeds ’n bystandtoelaag verdien.

“Hoekom moet hooggeplaastes ’n bystandtoelaag kry as hulle nie die werk doen nie? Met daardie toelae kan meer brandbestryders in diens geneem word en skofte kan tot 12 of agt uur verkort word,” sê hy.

Die metroraad het gesê hulle is reg om die kollektiewe ooreenkoms op enige tyd te hersien en enige dispuut oor werkure sal tussen die raad en vakbonde bespreek word.

Khumalo sê die vakbond is in die proses om ’n mandaat saam te stel sodat hulle ’n klag by die bedieningsraad kan indien sodat ’n onafhanklike entiteit ’n beslissing kan maak.

Meer oor:  Samwu  |  Kaapse Metro  |  Toekoms  |  Brandweer  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.