Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nog ’n waterkrisis in Goudveld oor chloortekort
Inwoners van Ventersburg se watertoevoer word gewoonlik laaste ná ’n wateronderbreking herstel. Hier sit mense in Desember verlede jaar by ’n handpomp en wag. Foto: Alet van der Walt

Inwoners van die Vrystaatse Goudveld is vandeesweek vir die soveelste keer sonder water gelaat omdat Sedibeng Water weens wanbetaling nie genoeg chloor kan aankoop nie.

Sedibeng Water het Woensdag in ’n omsendbrief, gerig aan die Matjhabeng-munisipaliteit, gesê dat die chloorvervaardiger NCP Chlorchem probleme by sy aanleg ondervind en sukkel om betyds genoeg chloor te lewer.

Sedibeng voeg egter by dat die munisipaliteit se versuim om sy grootmaatrekening te betaal, veroorsaak dat Sedibeng nie vroegtydig aankope kan doen nie.

Meer as ’n halfmiljoen mense word deur die nuutste waterkrisis geraak.

Die DA het Dinsdag ’n klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien omdat inwoners van die gebied deesdae gereeld dae lank nie drinkwater het nie.

Die MRK het reeds ontvangs van die klag erken.

Inwoners van Ventersburg staan hier tou by ’n erf met ’n windpomp. Die dorp is gereeld vir lang tye sonder water wanneer daar probleme by Sedibeng Water is.Foto: Alet van der Walt

Maxi Badenhorst, die DA se hoofsweep in die munisipaliteit, sê dit is die tweede klag wat ingedien word.

Dit is volgens haar nou die vierde keer sedert Desember 2020 wat Sedibeng sy suiweringsaanleg moet stop omdat hy nie genoeg chemikalieë het nie.

In Februarie 2020, gedurende ’n hittegolf, was die gebied dae lank sonder water omdat Sedibeng nie meer geld het om pompe te vervang wat breek nie.

’n Plaaslike ingenieursfirma het die drukpomp met “boereplanne” reggemaak.

In Oktober 2020 het ’n pomp se kabel uitgebrand en weer het die waterverskaffer gesukkel om die nodige herstelwerk te doen.

Badenhorst sê werknemers van Sedibeng Water het al erken dat hulle nie brandstof het om te ry om kleppe oop en toe te draai wanneer hulle die watervloei na sekere gebiede wil verhoog nie.

Inwoners van die gebied het Maandag kennis gekry dat die watersuiweringsaanleg by Balkfontein afgeskakel is omdat Sedibeng nie genoeg chloor het nie.

Omdat die waterinfrastruktuur in die gebied gebrekkig is, duur dit gewoonlik ses dae of langer voordat Ventersburg met sy 15 000 inwoners weer water het ná so ’n onderbreking.

NCP Chlorchem het Woensdag gesê hy sal ’n mediaverklaring aan Netwerk24 stuur.

Niemand wou bevestig of ontken dat die maatskappy ’n probleem met die vervaardiging van chloor het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.