Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nooitgedacht-waterplan staan stil oor regeringsgeld

Te midde van ’n nypende watertekort in die Nelson Mandelabaai-metro het bouwerk aan die Nooitgedacht-laevlakskema tot stilstand gekom.

Volgens Athol Trollip, burgemeester, is dit omdat die nasionale regering nie die geld wat daarvoor beloof is, oorbetaal nie.

Die voortslepende droogte het die Nelson Mandelabaai-metro genoop om met bouwerk aan die Nooitgedacht-watersuiweringsaanleg te begin.

Die aanleg is die derde fase van die laevlakskema wat al jare lank beplan word om water via die Groot Visrivier na die metro te gelei. Sowat ’n derde van die bouwerk aan die watersuiweringsaanleg is voltooi.

Athol Trollip, burgemeester van Nelson Mandelabaai (regs), is besorg dat bouwerk aan die Nooitgedacht-waterskema nie voltooi kan word voordat die nasionale regering geld oorbetaal het nie. Hier inspekteer hy Woensdag die bouterrein saam met Masixole Zinto, burgemeesterskomiteelid vir energie, infrastruktuur en ingenieurswerke, en Barry Martin (links), direkteur van water en sanitasie. Foto: Lynn William

Dié wateraanvulling is nog noodsaakliker omdat die metro verlede maand water uit die Churchilldam – sy noodopgaardam – begin gebruik het.

Trollip sê hy het ’n maand gelede ’n vergadering met Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, belê.

Nkwinti het volgens Trollip hom op die vergadering verbind om die nodige geld beskikbaar te maak sodat die projek teen ’n versnelde pas voltooi kan word.

“Ondanks dié belofte het daar nog niks gebeur nie. Fase drie is van kritieke belang, want Kouga en Koukamma se water raak op. Die Kougadam staan op 6%,” het Trollip gesê.

“Dit is die regering se verantwoordelikheid om water in grootmaat aan munisipaliteite te verskaf. Dit is ons verantwoordelikheid om die water te behandel en om seker te maak dat die water in die krane drinkbaar is.”

Nog net ’n derde van die bouwerk aan fase drie van die Nooitgedacht-waterskema is voltooi. Foto: Lynn Williams

Trollip sê met dié dat die regering nie sy kant bring nie, het die metro self gebeurlikheidsplanne in plek gestel, en gebruik hulle nou hul eie geld om hul “bure” in die Kouga-munisipaliteit te help.

Beurtwater het verlede week ’n werklikheid geword vir inwoners van Hankey en Patensie.

“Die minister het ’n beroep gedoen op my om alles in ons vermoë te doen om ons waterverbruik te verminder. Ons doen nou alles van ons kant af en met ons begroting.

“Mense praat van dag zero, maar daar gaan nie ’n dag zero in die Baai wees nie. Ons sou nie eens sprake gehad het van ’n dag zero as die Nooitgedacht-projek klaar was nie,” het Trollip gesê.

Meer oor:  Athol Trollip  |  Waterplan  |  Oos-Kaap  |  Nooitgedacht
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.