
Die nuwe besems by die Sol Plaatje-munisipaliteit is van links Thami Mabija, waarnemende munisipale bestuurder, Patrick Mabilo, huidige burgemeester, en Zahid Cader, die nuwe waarnemende finansiële hoof. Foto: Facebook/Dr. Zamani Saul
Die Noord-Kaapse regering het twee “ervare” amptenare in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley ontplooi om sake reg te ruk.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, sê op sy Facebook-blad “nou moet die werk begin en die onderlinge gekyf end kry”.
Thami Mabija word die waarnemende munisipale bestuurder en Zahid Cader word die waarnemende finansiële hoof.
Dit kom nadat die stad etlike dae sonder water was omdat herstelwerk aan die hooftoevoerwaterpyp van Riverton na die stad skeefgeloop het.
Die DA beweer in mediaverklarings daar is reuse-gate in die hooftoevoerpype wat tot waterbeperkings lei. Omdat daar so min water in die stelsel is, en weens foutiewe rioolpompe, riooltoevoerpype en verstopte stormwaterslote, vloei te min water na die rioolaanleg.
Daar kan dus nie genoeg verwerkte rioolwater in Kamfersdam gepomp word om die flaminke wat daar leef, te onderhou nie. Hul broeiseisoen lê voor.
Die DA het ook te velde getrek teen die aantal slaggate in die stad en vullis wat oral rondgestrooi word.
Die stad se finansiële sake lyk ook nie goed nie. Kimberley skuld sedert Julie sowat R70 miljoen aan Eskom.
Saul sê die ontplooide amptenare moet help om die stad te ontwikkel.
“Ek wens hulle alle sterkte toe. Dit gaan nie ’n maklike taak wees nie. Hulle sal hard moet werk om ons mense se lewensgehalte verbeter.
“Ek het ook ’n span aangestel, van wie sommige lede ingenieurs is, om die stad se infrastruktuur deeglik te ondersoek.”