Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Noord-Kaap: Raak ontslae van stinkende toiletprobleem

Die probleme wat betref die vervanging van die emmerstelsel met droë- of spoeltoilette in die Noord-Kaap is steeds nie opgelos nie en bedrog het daartoe gelei dat duisende emmer-toilette steeds nie vervang is nie.

Gizella Opperman, DA-LP, het ’n beroep op Bentley Vass, die LUR van Cogta in die Noord-Kaap, gedoen om die probleme met die “morsige emmerstelsel” op te los.

Duisende huishoudings in die Noord-Kaap moet nog van die emmerstelsel gebruik maak.Foto: Verskaf

Opperman sê die korrupte manier waarop ’n kontrak toegeken is om die stinkende stelsel te vervang, het daartoe gelei dat derduisende emmers steeds in die provinsie gebruik word.

Die emmerstelsel kon teen dié tyd tot niet gemaak gewees het, sê Opperman.

Sy sê die omstrede toiletkwessie, wat al voorheen hoofnuus was, was weer verlede week in die kollig op ’n portefeuljekomiteevergadering vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Die komitee het vergader oor ’n forensiese ondersoek in verband met die verskaffing van waterlose toilette in die Oos- en Noord-Kaap.

Die waterlose toilette staan bekend as VIP-toilette (ventilated improved pit toilets).

Opperman sê die departement vir menslike nedersettings het in 2013 met ’n veldtog begin om die emmerstelsel in die Noord-Kaap uit te wis.

Die departement het die ondersteuningsagent vir munisipale infrastruktuur (Misa) aangestel om dit te doen.

Die tender, ter waarde van R119 miljoen, is aan die Siyenza-groep, ook bekend as Blue Nightingale, toegeken om die stelsels in twee Noord-Kaapse munisipaliteite te vervang.

’n Soortgelyke kontrak is in die Oos-Kaap aan dieselfde maatskappy toegeken.

In Mei 2015 het Misa betaling vir die Oos-Kaapse kontrak weerhou omdat Siyanza se belastingklaringsertifikaat verval het.

Die Noord-Kaapse kontrak was reeds betaal.

Misa het reeds R185 miljoen bestee toe dit aan die lig gekom het dat die belastingsertifikaat van Siyenza vervals is.

’n Klag van bedrog is teen die maatskappy ingedien en die Oos-Kaapse kontrak is opgeskort.

Opperman sê die VIP-toilette is teen R6 000 stuk deur Siyenza geïnstalleer, maar dat dié toilette eintlik niks anders is as ’n verbeterde emmertoilet nie.

Sy sê pleks van om die emmerstelsel uit te wis het Siyenza eintlik daartoe bygedra dat daar nou meer emmertoilette in die Noord-Kaap is.

Dit is werklik tragies as ’n mens in ag neem dat die Noord-Kaap 47 219 waterdoeltreffende spoeltoilette met dié geld kon installeer, sê Opperman.

Sy sê die ANC-regering is al elf jaar verby sy sperdatum om van die emmerstelsel ontslae te raak.

Nog 2 212 emmertoilette moet in nedersettings in die Noord-Kaap vervang word, maar dit sluit nie in die 5 310 huishoudings op formele standplase en 5 658 op informele standplase nie, sê sy.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.