Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Noorde van Bloem dalk gou sonder water

Die noordelike woonbuurte van Bloemfontein kan binnekort sonder water wees omdat die Maselspoort-watersuiweringsaanleg Dinsdag teen 18:00 steeds afgeskakel was.

Dié aanleg, wat die noordekant van die Rosestad van water voorsien, is Maandagoggend afgeskakel omdat ’n ooreenkoms nog nie met Bloemwater bereik is om teen betaling water te lewer om die aanleg te voed nie.

Dr. Tseliso NtiliFoto: Argief

Dr. Tseliso Ntili, hoof van die Vrystaatse departement van water en sanitasie, sê hy sal Woensdag die saak probeer beredder.

Hy wil die Mangaung-metro en Bloemwater help om tot ’n vergelyk te kom sodat water uit die Rustfonteindam vir die droë Mockesdam vrygelaat kan word.

Ntili het bevestig dat die Mockesdam, wat die Maselspoortaanleg moet voed, nou dolleeg is.

“Die enigste manier om die probleem op te los, is om water uit die Rustfonteindam vir Mockesdam vry te laat, maar die wet skryf voor dat daar sekere ooreenkomste tussen die partye – die Mangaung-metro en Bloemwater – bereik moet word. Ek gaan hulle help om ’n ooreenkoms te kan bereik.”

Intussen sê Rossouw Botes, DA-raadslid, dat hy Dinsdag geen bevestiging kon kry dat water reeds uit die Rustfonteindam vir die Mockesdam vrygestel is nie.

“Wat ek wel kon vasstel, is dat die Maselspoortaanleg teen Dinsdag laatmiddag steeds af was.”

Botes sê wanneer water uit die Rustfonteindam vir die Mockesdam vrygestel word, neem dit twee dae vir die water om die dam te bereik. Hierna neem dit nog ’n dag om die water by die aanleg te kry en dan moet die suiweringsaanleg weer in bedryf gestel word, wat nog byna ’n dag kan duur.

Hy sê die twee Arboretum-reservoirs, waarvan die vlak Dinsdagoggend op 69% gestaan het, gaan beslis nie hou as daar geen nuwe water invloei nie.

“Die inwoners van die noordelike voorstede sal hulle op ’n paar dae sonder water moet voorberei.”

Intussen sê adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, dat hy inderdaad reeds geld aan Bloemwater oorbetaal het vir die loslaat van water uit die Rustfonteindam.

* Volgens Thembeni Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, is ’n vergadering vir Donderdagoggend met Eskom belê om oor nuwe betalingsreëlings te onderhandel.

Dit volg ná ’n kennisgewing van Eskom dat hy weens wanbetaling drie Vrystaatse munisipaliteite se krag van 3 Desember bedags van 06:00 tot 20:00 wil ontkoppel.

Dit geld die Mangaung-metro, waarvan die krag deur Centlec versprei word, Mantsopa (Ladybrand, Hobhouse, Tweespruit, Thaba-Phatswa en Excelsior) en Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling).

Nxangisa sê Centlec skuld net een paaiement wat voor 15 November betaal moes gewees het en het uitstel versoek om dit op 30 November te betaal, met rente van meer as R100 miljoen.

* Qondile Khedama, hoofbestuurder van kommunikasie van die metro, kon Dinsdag ná meer as ’n week nog nie sê hoe die R233 miljoen wat die metro vir droogtehulp ontvang het, bestee is nie.

Skriftelike navrae is sonder sukses aan Khedama gerig en hy het ook nie sy ondernemings gestand gedoen om telefonies te reageer nie.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Bloemfontein  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.