Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nuwe hoof van gesondheid by ongerymdhede betrek
Obakeng Mongale Foto: Verskaf

Noordwes se gesondheidsdepartement het vandeesweek ’n nuwe departementshoof aangestel nadat sy voorganger die trekpas gekry het weens beweerde ongerymdhede van miljoene rande.

Die DA is egter bekommerd oor die aanstelling van Obakeng Mongale, wat glo betrek is by tenderongerymdhede toe hy vroeër hoof van die provinsie se departement van openbare werke was.

“Hy is in 2014 onder ’n wolk van omstredenheid weg hieroor,” sê Winston Rabotapi, DA-lid van Noordwes se portefeuljekomitee oor gesondheid.

“Hoewel onafhanklike ondersoekers tugstappe aanbeveel het teen hom en ander amptenare wat hierby betrek is, is Mongale weg sonder dat enige stappe teen hom gedoen is. Dis skokkend dat die departement van gesondheid, wat sedert 2018 onder administrasie is, iemand aanwys wat tevore van wangedrag beskuldig is.”

Die DA vra Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid, nou om besonderhede te gee op grond waarvan Mongale aangestel is, asook inligting oor ander kandidate wat aansoek gedoen het vir die pos. Die party wil dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vra hoe hierdie aanstelling onder sy wakende oog kon gebeur.

Sambatha het pas ná Mongale se aanstelling gesê dit is ’n mylpaal sedert dr. Thabo Lekalakala, sy omstrede voorganger, se vertrek in 2018. Jeanette Hunter, die administrateur, het intussen die departementshoof se pligte vervul.

Dr. Thabo Lekalakala, omstrede voormalige departementshoof van Noordwes se gesondheidsdepartement. Foto: Argief

“Hunter het ’n stewige grondslag gelê om die departement se geloofwaardigheid en vermoë om dienste te lewer, te herstel,” sê Sambatha. “Mongale kan nou hierop voortbou. Hy het wye ervaring op bestuursvlak omdat hy tevore hoof van ander regeringsdepartemente was. Hy is goed vertroud met die departement van gesondheid se gesondheidsdienste, asook ondersteunende funksies. Ons wens hom die beste toe en vra dat ander hom sal ondersteun.”

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van Noordwes se gesondheidsdepartement, sê Sambatha sal volgende week op ’n nuuskonferensie reageer op die bewerings oor Mongale se verlede.

• Lekalakala ontken skuld aan die ongerymdhede waarvan hy aangekla word. Hy is vroeër in ’n tugverhoor daaraan skuldig bevind dat hy gejok het oor sy ervaring, asook aan bedrog en geldelike wanbestuur. Volgens hom het hy daarna self bedank en hy is nie afgedank, soos wat die gesondheidsdepartement beweer, nie.

Lekalakala word strafregtelik aangekla van bedrog en korrupsie omdat hy glo onreëlmatig ’n kontrak van miljoene rande vir mobiele klinieke met die Mediosa-maatskappy aangegaan het. Mediosa is glo R30 miljoen betaal nog voordat die maatskappy enige dienste gelewer het. Vroeër is bespiegel dat dié maatskappy Gupta-bande het, maar Mediosa het dit ontken. Die Mediosa-groep en Lekalakala ontken onreëlmatighede met die kontrak, wat intussen gekanselleer is.

Sy verhoor weens die bewerings hervat volgende week.

Meer oor:  Noordwes  |  Obakeng Mongale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.