Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Nylrivier nou bloedrivier in Modimolle
Die bloed vloei van die slagpale in Modimolle (Nylstroom) na die Nylrivier.

’n Klag is Donderdag teen die Waterberg-distriksmunisipaliteit ingedien nadat bloed van die slagpale in die Nylrivier buite Modimolle (Nylstroom) in Limpopo beland het.

’n Verstopping in die rioolaanleg van die dorp het glo veroorsaak dat die slagpale, wat aan die munisipaliteit behoort, se bloed na die rivier gevloei het.

Rioolvuil vloei ook in die Nylrivier omdat Modimolle se rioolsuiweringsaanleg nie behoorlik werk nie.

Inwoners is hoogs ontstoke oor wat gebeur het en op ’n video kan gesien word hoe die bloed in die rivier vloei.

“Die Nylrivier het in die Bloedrivier verander,” sê ’n inwoner wat nie genoem wil word nie.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, sê sy het ’n klag by die polisie ingedien.

Bloed van die slagpale dam buite Modimolle op.

“Die erge besoedeling van die Nylrivier skep ’n ernstige gesondheidsrisiko en skend inwoners se grondwetlike reg tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir mense se welstand en gesondheid nie.”

Sy het ook ’n klag van menseregtevergrype teen die Waterberg-distriksmunisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) in Limpopo ingedien.

“Mense se lewe word in gevaar gestel deur die besoedeling. Die nalatigheid van die Waterberg-distriksmunisipaliteit, maak inbreuk op die gemeenskap se reg tot ’n skoon omgewing.”

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het intussen ingegryp en ’n pomp gehuur om die verstopping in die rioolsuiweringswerke op te klaar.

Die munisipaliteit word deur ’n DA-koalisie bestuur en is in 2018 deur die tesourie in Limpopo onder administrasie geplaas weens sy finansiële probleme.

Die DA-koalisie het miljoene rande se skuld geërf toe hy in 2016 die beheer van die munisipaliteit by die ANC oorgeneem het.

Billy Nenguza, 'n werker van die Modimolle-munisipaliteit, by die suigpomp.

Van Staden sê nuwe filters sal by die slagpale geïnstalleer moet word en dit sal gereeld skoongemaak moet word.

Volgens haar kan die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se rioolpype nie die groot hoeveelheid “vreemde voorwerpe” hanteer nie omdat dit verouderd is.

Van Staden en Maritz is dit eens dat die jare lange verval van infrastruktuur onder die ANC die skuld moet kry vir die gemors.

“Die krisis van rioolstorting in die Nylrivier is uiters kommerwekkend vir die gemeenskap en die boere wie se grond aan die rivier grens,” sê Maritz.

Morris Mataboge, burgemeester van die Waterberg-distriksmunisipaliteit, sê hy is nie bewus van die besoedeling nie. Hy het navrae na die munisipaliteit verwys. Niemand het Donderdag die telefone beantwoord nie.

Meer oor:  Modimolle (Nylstroom)  |  Riool  |  Bloed  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.