Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
O-Kaapse regering gryp dalk in by NMB

Die moontlikheid word ondersoek om by die Nelson Mandelabaai-metro in te gryp.

Die Oos-Kaapse departement van tradisionele sake en samewerkende regering (Cogta) se regsafdeling bekyk tans die stand van sake rakende die politieke leierskap in die metro.

Die metro is al sedert Desember sonder ’n burgemeester en ’n spesiale raadsvergadering van Donderdag om dié amp te vul, is deur die speaker ongeldig verklaar.

Xolile Nqatha, LUR vir Cogta, het Vrydag die situasie as betreurenswaardig beskryf en gesê die rompslomp kom ten koste van dienslewering aan die stad se inwoners.

Die UDM se Mongameli Bobani is in Desember by wyse van ’n wantrouemosie uit sy amp verwyder.

Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap. Foto: Lulama Zenzile

Nqatha het Vrydag gesê na sy mening moes die hele burgemeesterskomitee ná Bobani se uitstemming ontbind word.

“Die burgemeesterskomiteelede word deur die burgemeester aangestel. Soos ek die proses verstaan, behoort die huidige lede nie meer in hul ampte te wees nie.”

Hy meen Thsonono Buyeye van die AIC, wat as waarnemende burgemeester instaan, kon minstens sy eie burgemeesterskomitee verkies het. En al was dit ook dieselfde amptenare, moes die proses gevolg word.

Die LUR sê hy vermoed daar is ook net ’n beperkte tydperk wat die amp mag leegstaan, en sal dit deel vorm van hul ondersoek.

Terugvoering van die departement se regspan word binne die volgende week verwag, waarna Nqatha met die nasionale departement sal vergader om die weg vorentoe te bepaal.

Maar Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, sê hy wil binne die volgende vyf tot tien dae sien dat ’n spesiale raadsvergadering in die metro gehou word.

Hy het Vrydag gesê ’n nuwe versoekskrif met 62 handtekeninge van raadslede van opposisiepartye (die DA, ACDP, Cope, Patriotic Alliance en die UDM) is reeds by Buyelwa Mafaya, die speaker, se kantoor vir ’n nuwe spesiale raadsvergadering ingehandig.

Volgens Bhanga is dié vergadering uiters belangrik omdat die stad nie veel langer sonder ’n leier kan voortgaan nie.

Mafaya het Donderdag se vergadering ongeldig verklaar nadat Mkhuseli Mtsila van die United Front (UF), haar Woensdagaand gebel het om sy handtekening van die oorspronklike versoekskrif vir Donderdag se raadsvergadering te verwyder.

Mtsila se onttrekking het die versoekskrif met 60 handtekeninge gelaat, terwyl 61 as meerderheid in die raad benodig word.

Bhanga het Vrydag volgehou dat Mafaya se optrede van Donderdag onwettig was.

Indien die speaker nie die jongste versoekskrif wil aanvaar nie, sal die opposisiepartye hulle na die hof wend.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Cogta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.