Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
OB gevra om Mangaung-tribunaal te ondersoek

Die DA het die openbare beskermer (OB) gevra om ondersoek in te stel na die Mangaung- Munisipale Beplanningstribunaal omdat die ekonomie in die metro al hoe meer verswak en ontwikkelings en bouwerk nie kan voortgaan nie.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid, sê sy party gaan onmiddellik ’n klag by die OB indien om die kwessie rondom die tribunaal, asook die algehele agteruitgang van dienslewering en ekonomiese ontwikkeling in die metro wat hiermee gepaard gaan, te ondersoek.

“Dit is omdat alle voornemende ontwikkelings en hersonerings van grond vir dié ontwikkelings eers by die tribunaal bespreek moet word voordat aanbevelings vir goedkeuring aan die metroraad gedoen kan word.”

Adv. Mzwakhe Mofokeng, die administrateur, sê: “Ons het Woensdag hieraan aandag gegee en stel alles by die metro reg wat verstryk het.”

Tjaart van der Walt Foto: Argief

Van der Walt sê egter die tribunaalpaneel se termyn het reeds op 1 Julie verval, vyf jaar nadat die raad aangestel is.

“Maar die munisipaliteit het op Maandag 7 September net vir benoemings vir nuwe paneellede geadverteer. Dit was reeds twee maande nadat die termyn van die huidige paneel verstryk het.

“In ’n bekwame regering sou die advertering en aanstelling vir lede van die nuwe tribunaal reeds maande voor die verstryking van die paneel se termyn afgehandel gewees het.”

Hy sê om die kroon te span moes die DA uitvind dat die tribunaal in die inperkingstydperk slegs een sitting gehou het.

Dit beteken dat die agterstande wat betref die goedkeuring van grondgebruiksaansoeke vir dorpstigting, die onderverdeling van erwe, samevoeging van erwe en hersonerings in 2020 uitermate vererger het.

“Dit kom in ’n tyd dat die Mangaung-metro se ekonomie ’n groot terugslag gehad het nie net weens die inperking nie, maar ook weens die voortdurende afname en verswakking van dienslewering en die gebrek aan politieke leierskap met die ruimtelike ontwikkelingsplanne.”

Van der Walt sê die DA het ook bewyse gekry van grootskaalse wanbestuur by die tribunaal wat met grondgebruiksaansoeke en -prosesse verband hou.

“Ons bewyse dui op ongelyke en onregverdige behandeling van grondgebruiksaansoekers, asook diegene wat daarteen beswaar maak. Ons sal ook dié bewyse aan die OB oorhandig sodat ondersoek ingestel kan word na die tribunaal.”

Adv. Mzwakhe Mofokeng Foto: Argief

Van der Walt sê getuienis sal ook aan die OB verskaf word sodat nie net die beplanningstribunaal ondersoek kan word nie, maar ook die departement wat nie aan die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid voldoen nie.

Mangaung systap ook sedert 1 Julie die Wet op die Bestuur van Ruimtelike Beplanning en Grondgebruike omdat die grondgebruiksbestuurskema wat die raad goedgekeur het, reeds vyf jaar nadat die wetgewing ingestel is, nie voltooi is nie.

Die doel van die grondgebruiksbestuurskema wat van elke munisipaliteit vereis word, is om grondgebruiksbestuur te moderniseer en te digitaliseer.

Van der Walt sê ondanks verskeie waarskuwings deur die DA, het die administrasie onder die voormalige burgemeester Olly Mlamleli verkies om by die argaïese dorpsbeplanningskema van 1954 vir Bloemfontein te bly.

“Terwyl Mlamleli en adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, voortdurend lippetaal-diens aan konsepte soos ruimtelike transformasie bewys, het alle wettige ontwikkelings weens die metro se swak grondgebruiks-bestuur tot stilstand geknars, terwyl onwettige ontwikkelings soos wegholbrande versprei het. Dit het die stad van broodnodige inkomste beroof.”

Die DA vra die provinsiale ingrypingspan om Mangaung dringend van Mlamleli en Mea se ekonomiese nalatenskap te red. Die span moet ook verseker dat Mangaung se strukture en prosesse vir ruimtelike beplanning, grondgebruiksbestuur en ekonomiese ontwikkelings aan die tersaaklike wetgewende vereistes voldoen.

Mofokeng sê as die DA bewyse van korrupsie het, moet klagte by die polisie ingedien word.

Meer oor:  Ob  |  Tjaart Van Der Walt  |  Mangaung  |  Tribunaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.