Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
OB ‘sal moet dagvaar in Mangaung’

Die kantoor van die openbare beskermer (OB) in Bloemfontein word oorval met klagtes oor die metro, en as amptenare nie reageer op aanmanings om voor die kantoor te verskyn nie, sal adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, gevra word om in te gryp.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB se kantoor in Pretoria, sê adv. Erika Cilliers van die OB se kantoor in Bloemfontein kry glo nie die samewerking van adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, en sy bestuurspan nie. Sy het reeds ’n finale aanmaning aan hulle gestuur om voor haar te verskyn.

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB). Foto: News24

As hulle versuim, sal Mkhwebane gevra word om hulle te dagvaar om voor die OB se Bloemfonteinse kantoor te verskyn. Sy sal ook gevra word om ’n stelselondersoek na die werkinge van die metro te gelas “sodat die metro voorkomend kan optree en nie net op klagtes reageer nie”.

Die geldsake van die metro is benard en die nasionale tesourie het die metro gehelp om ’n omdraaistrategie van 213 bladsye te skryf. Die metroraad moet dit egter nog goedkeur.

Op 31 Julie vanjaar was die uitstaande debiteure van die Mangaung-metro R4,5 miljard, R79,8 miljoen meer as die vorige maand. Hiervan is R846 miljoen deur die staat verskuldig; altesame 18,45% van die uitstaande debiteure,” sê Hans Britz, DA-stadsraadslid.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê die meeste klagtes by die OB se Bloemfonteinse kantoor gaan oor waterlekke (48% van die stad se drinkwater gaan nou verlore); vullisverwydering (die stad word verswelg deur opgehoopte vullissakke wat nie verwyder word nie); en riooloorlope (wat nou ’n agterstand van 1 300 gevalle het).

“Raadslede se telefone lui onophoudelik soos wat inwoners kla.”

Dr. Zweli Mkhize, wat glo weer op pad Bloemfontein toe is.Foto: News24

Britz sê die jongste raadsvergadering kon nie gehou word nie omdat daar glo nie geld vir papier was om agendas te druk nie.

“Hoe kan Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, in dié haglike omstandighede ’n Erfenisdag-partytjie vir werknemers op Loch Logan-eiland hou?”

Mea sê hy is nie bewus van die finale aanmaning van die OB se kantoor nie. Op die vraag hoe munisipale dienste verbeter gaan word, sê hy “dinge is besig om te gebeur”.

Intussen sê Eddie Rasoeu, DA-raadslid, dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het glo Dinsdag in ’n onderhoud oor SAfm gesê hy beplan ’n opvolgbesoek na die metro waar hy reeds meer as drie maande gelede kom ingryp het.

Mea sê hy is nie bewus hiervan nie en Mkhize se kantoor sê hulle kan nog nie die besoek bevestig nie.

Hardie Viviers, DA-koukusleier, sê die koukus gaan binnekort ’n omvattende verslag oor al die diensleweringsprobleme in Mangaung aan die Menseregtekommissie (MRK) oorhandig.

Baba Sebolao, EFF-raadslid, sê hy dink Mkhize se ingryping in Mangaung was oëverblindery. “Dis die ANC wat die ANC beskerm. Niks het sedertdien verbeter nie.”

  • Netwerk24 het op 22 Junie berig Mkhize het by nege sukkelende Vrystaatse munisipaliteite sowel as die metro kom ingryp sodat hulle reggeruk kan word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.