Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
KYK: Ombudsman ‘deel van plan om VS-waterkrisis op te los’

’n Oorlewingsplan is gereed vir die Vrystaatse waterrade soos Bloemwater en Sedibeng wat in duie stort omdat die provinsie se wankelende munisipaliteite hulle R6 miljard skuld.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het Woensdag in antwoord op ’n vraag van Emma Powell, DA-LP en die party se adjunk-woordvoerder oor dié portefeulje, gesê ’n ombudsman moet vir Suid-Afrika se waterrade aangestel word.

Dit is om seker te maak dat munisipaliteite hul waterrade betaal sodat dié rade nie in duie stort nie.

Voorts moet dit onwettig wees vir waterrade om munisipaliteite se water in die Covid-19-tyd in te perk of op te skort.

Dr. Tseliso Ntili Foto: Argiewe

Dit volg op Netwerk24 se berig vandeesweek dat 13 Vrystaatse dorpe se watertoevoer deur Bloemwater verminder word omdat dié raad in duie stort weens munisipaliteite se wanbetaling.

Sisulu is ook gevra oor sowat R470 miljoen se water wat jaarliks by Vrystaatse munisipaliteite verlore gaan oor lekke wat nie dadelik herstel word nie.

Sy is voorts gevra oor die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, wat Woensdag gekla het dat sy oor die waterkrisis in die duister gehou word, en oor Thembeni (Skully) Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, se geskarrel om geld in die hande te kry om Bloemwater en Sedibeng te red.

Rossouw Botes, DA-raadslid van die metro, sê intussen kon inwoners van verskeie Bloemfonteinse woonbuurte soos Pellissier, Fichardtpark, Generaal de Wet, Universitas-Rif, Langenhovenpark, Bainsvlei en Lourierpark Woensdagmiddag ’n sug van verligting slaak nadat hul watertoevoer wat ingekort was, weer oopgestel is.

Bernard Phitsane Foto: Argiewe

Dit het gevolg op samesprekings tussen Bloemwater en die Mangaung-metro wat die waterraad in die omgewing van R1,2 miljard skuld. Bloemwater het begin om waterlewering in te kort omdat hy nie meer geld vir sy bedryfsuitgawes het nie.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, het Woensdagaand aan Botes bevestig dat ’n vergelyk met Bloemwater getref kon word om die inkortings op te hef.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van waterwese en sanitasie, het bevestig hy moes Woensdag dringende virtuele samesprekings met provinsiale en nasionale regeringsdepartemente bywoon om die waterkrisis te probeer beredder. Gesprekke is steeds op verskeie regeringsvlakke aan die gang, het hy gesê.

Adv. Mzwakhe Mofokeng, die administrateur van die metro, het Woensdag in ’n verklaring gesê die metro het tussen Julie en Augustus altesaam R130 miljoen op sy waterrekening afbetaal. Dit dui op toewyding om ook verder te betaal, sê hy.

Adv. Tankiso Mea Foto: Argiewe

Hy het ook gesê daar is voortdurende gesprekvoering tussen die metro en Bloemwater om te keer dat inwoners ly onder geskille tussen die twee.

Die metro verbind hom tot die afbetalingsplan soos ooreengekom gedurende die nasionale tesourie se bemiddelingsgesprekke met die partye op 4 Julie 2019.

“Ons wil inwoners verseker dat daar nie ’n waterinkorting sal wees nie. Enige wateronderbreking moet hanteer word as ’n tydelike onderbreking,” lui sy verklaring.

Maar Bloemwater het vroeër Woensdagmiddag gesê hy is gedwing om werksaamhede in te kort weens munisipaliteite se wanbetaling.

Bernard Phitsane, voorsitter van die raad, het Woensdagoggend aan Netwerk24 gesê die metro skuld Bloemwater in die omgewing van R1,2 miljard (’n dispuut-bedrag is hierby ingesluit) wat al in die Vrystaatse hooggeregshof gedraai het.

Die Kopanong-munisipaliteit (Suid-Vrystaat se nege dorpe) se skuld beloop R470 miljoen en Mantsopa (Ladybrand, Excelsior en Tweespruit) s’n tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Ntili het gesê munisipaliteite soos Matjhabeng (Welkom) en Nala (Bothaville, Wesselsbron) skuld gesamentlik meer as R1 miljard aan die Sedibeng-waterraad.

Adv. Mzwakhe Mofokeng Foto: Argiewe

Phitsane het gesê vyf groot wateraanlegte van Bloemwater sal stelselmatig gesluit moet word omdat daar nie geld vir bedryfsuitgawes is nie.

Inwoners van Suid-Vrystaatse dorpe het Dinsdag nie water vir die dag gehad nie en Trompsburg was sonder water en krag, maar al die munisipaliteite het intussen bevestig dat hul waterlewering herstel is.

George Michalakis, DA-LP en lid van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), het Woensdag ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor waterrade wat in duie stort en Vrystaatse dorpe wat reeds sonder water gelaat is.

Solly Phama, woordvoerder van Kopanong, het gesê die probleem is dat meer as 60% van die inwoners van die Suid-Vrystaat werkloos is en die gebied besig is om te ontvolk. Die belastingbasis word net al hoe kleiner.

Dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid van die metro, het gesê as die Vrystaatse provinsiale regering sy skuld aan die metro betaal, kan die metro Bloemwater betaal.

“Dit is eintlik ’n bose kringloop.”

Sy het gesê die watervoorsieningstwis tussen Mangaung en Bloemwater is die gevolg van interne faksiegevegte in die ANC en onbevoegde en onbekwame amptenare. Alles dui daarop dat die ANC nie in staat is om te regeer nie.

Meer oor:  Bloemwater  |  Lindiwe Sisulu  |  Vrystaat  |  Ombudsman  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.